Soorte resepte:

2 ℓ-plastiekbottels kan ook nou ingeruil word vir geld

Die inruilbare koeldrankbottels

Coca-Cola Suid‑Afrika het pas aangekondig dat hulle ʼn inisiatief van stapel stuur waar hul 2 ℓ‑plastiekkoeldrankbottels nou vir geld ingeruil kan word.

Dit kom na ʼn suksesvolle toetslopie in die Oos-Kaap verlede jaar. Voorheen kon slegs die glasbottels ingeruil word.

Dié plastiekbottels kan nou vir R9 ingeruil word. Dit beteken dat ʼn 2 ℓ‑bottel koeldrank, wat gewoonlik sowat R20 kos, nou slegs R11 sal kos indien die bottel teruggevat word vir inruiling.

Coca-Cola Beverages se bestuurshoof, Velaphi Ratshefola, het aan eNCA vertel dié inruilbare plastiekbottels dien ʼn dubbele doel: Eerstens om die produk meer bekostigbaar te maak vir die verbruiker en tweedens om ʼn positiewe bydrae tot die bewaring van die omgewing te maak.

Hierdie projek is nie spesifiek gemik op Coke-bottels nie, maar enige koeldrank wat Coca-Cola vervaardig, soos Fanta en Sprite ook.

Verbruikers kan die inruilbare plastiekbottels uitken aan hul groen doppie en ʼn strook op die etiket met die woord “Returnable” op.

“Ons bring aan mense drinkgoed wat die lewe se alledaagse oomblikke beter maak, terwyl ons op die regte manier besigheid doen – nie net die maklike manier nie. Ons doel is om die wêreld te verfris en ʼn verskil te maak,” skryf Coca-Cola op hul webtuiste.

Ratshefola sê dié projek is reeds in Limpopo, Mpumalanga en die noorde van Gauteng van stapel gestuur. Hulle beoog om die projek teen Oktober na die res van Gauteng uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pampoen

Ek is een van daai ouens wat baie koeldrank drink (Coke Zero). As ek dit nou reg verstaan, dan gaan my koeldrank nou R11 kos instede van R20. Dis te goed om waar te wees.

Drikus

Hoe en wie bepaal die kondisie van die bottel en wie verifieer die inhoud dat dit slegs koeldrank gehou het en nie brandstof?

Scalla

Puik idee, hoop ander bottel mededingers volg hul voorbeeld

Niklaas

Dis nou ‘n puik voorstel en verdien aplous , want plastiek items lê die land vol (en sommer die oseane ook)

Johan

Coca-Cola SA het dit al van tevore gedoen. In die 90’s het hulle ‘n plastiek 1.5 lieter bottel gemaak met ‘n dep. op die bottel. Ek weet nie hoekom hulle dit toe onttrek het nie.