2 500 slaggate in Jhb herstel

(Argieffoto: GroundUp)

Slaggate is ʼn alledaagse verskynsel wat vir baie Suid-Afrikaners ʼn doring in die vlees is. Daarom het die Stad Johannesburg en die versekeringsmaatskappye Dialdirect en Discovery Insure kragte saamgespan om soveel moontlik slaggate op paaie in en rondom Johannesburg in Gauteng te herstel.

Die Pothole Patrol-projek is amptelik in Mei vanjaar van stapel gestuur en meer as 10 000 gebreke in die pad, waaronder slaggate en slote, is sedertdien herstel. Die grootte van al dié gate en slote is gelykstaande aan die grootte van ʼn rugbyveld.

Altesaam 2 500 tradisionele slaggate is reeds herstel. ʼn Tradisionele slaggat word beskou as ʼn gat in die pad, van sowat 500 mm x 500 mm x 25 mm, wat vorm wanneer vog of water onder die oppervlak van die pad sypel en die pad se basislaag losdruk.

“Namate voertuie daaroor ry, skuif van die padoppervlak weg en die gate vergroot. Hoe groter en dieper slaggate word, hoe gevaarliker word dit en kan dus groot skade aan voertuie aanrig. In sommige gevalle kan dit selfs ongelukke tot gevolg hê,” sê die versekeraars in ʼn verklaring.

Ander gate en slote wat herstel is, was groter en dieper as ʼn tradisionele slaggat en is meestal deur padwerke veroorsaak.

Anneli Retief, hoof van Dialdirect, sê die projek is begin met die doel om ʼn verskil op die land se paaie en die padgebruikers se lewe te maak.

Die span beoog om minstens 600 gate per week met dié projek te herstel. Snelweë en paaie wat die meeste deur motoriste gebruik word, word eerste getakel.

ʼn Slimfoon-toepassing is ook ontwikkel om inwoners van Johannesburg in staat te stel om gate aan te meld wat herstel moet word.

Retief sê hulle is tevrede met die vordering en verskil wat die projek tot dusver gemaak het. “Die paaie is egter in ʼn baie slegter toestand as wat ons gedink het,” sê sy.

Volgens Retief kan ʼn slaggat erge langtermynskade aan motors se bande, wielsporing en motors se onderdele aanrig.

“Wanneer jou motor na die een kant van die pad trek terwyl jy ry, of jou motor ruk buitensporig op ʼn gladde pad, moet jy weet daar is fout. Die beste manier om sulke probleme te vermy, is om bloot ʼn slaggat te vermy.

Dail Direct en Discovery Insure het dié wenke verskaf om slaggate te vermy:

  • Behou ʼn goeie volgafstand van die motor voor jou om sodoende ʼn slaggat betyds te gewaar.
  • Ry stadiger.
  • Ry versigtig oor waterplasse in die pad omdat ʼn baie diep slaggat daaronder kan skuil.
  • Hou jou banddruk konsekwent volgens die aanbevelings van die vervaardiger van die motor. Dit sal help om jou voertuig se wiele en bande te beskerm wanneer jou motor ʼn slaggat tref.
  • Hou jou stuurwiel stewig met albei hande vas sodat ʼn onverwagse slaggat jou nie van koers gooi nie.
  • Wanneer jy wel ʼn slaggat tref, moenie die rem trap nie – die motor se gewig moet te alle tye eweredig tussen die voor- en agteras versprei wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Klink my die slaggate word nou al name gegee, kan die slim manne se wat is die verskil tussen n gewone en tradisionele gat.

Belinda

ons sal maar sien hoe lank die herstelwerk hou… een ligte reen bui of so paar trokke wat oor dit ry en die gat is maar weer daar… quick fixes werk nooit.

Pietertjie

Kan ons terugvoer kry oor hoeveel herstelwerk nog hou ná twee weke? Hier waar ek woon word daar sommer sonder enige voorbereiding net ‘n graaf vol vulsel in die slaggat gegooi en met die werker-stewel ‘n bietjie vasgetrap. Ná twee weke ( sonder reën) is daar geen teken meer van die vulsel nie. Klagtes by die Metro val op dowe ore.

Anthony

Thank you Dialdirect en Discovery Insure

Stof

My opregte dank en waardering aan die vakmanne wat so getrou hierdie gate herstel. Ek dink nie almal waardeer julle na waarde nie.