2 dood, 1 kritiek ná trompop botsing

Die ongelukstoneel. (Foto: ER24)

Twee mans is dood en ’n vrou in ’n kritieke toestand gelaat nadat ’n motor en ’n vragmotor Donderdagoggend reg van voor op die R54 naby Vaal Marina in Gauteng gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het in ’n verklaring gesê paramedici is omstreeks 07:45 na die toneel ontbied waar hulle met hul aankoms ’n motor en ’n vragmotor langs die pad aangetref het. ’n Deel van die motor was onder die vragmotor vasgekeer.

Volgens Meiring was twee mans in dié stadium in die wrak van die motor vasgekeer. Daar was niks wat paramedici vir die mans kon doen nie en albei is op die toneel dood verklaar.

’n Vrou was ook in dié wrak vasgekeer en meganiese toerusting is gebruik om haar uit die wrak te bevry. Die vrou is op die toneel behandel voordat sy in ’n kritieke toestand na die Sebokeng- provinsiale hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Volgens Meiring het die bestuurder van die vragmotor geringe beserings in die voorval opgedoen.

Die omstandighede rakende die botsing is in dié stadium onduidelik. Die owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.