2 dood, 2 beseer in botsings in Jhb

Die ongelukstoneel in Fourways. Foto: ER24

Twee mense is dood en twee ander ernstig beseer in twee verskillende botsings Woensdagmiddag in Johannesburg.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê in die eerste ongeluk het ʼn bakkie en ʼn motor reg van voor op Cedarweg in Fourways gebots. By paramedici se aankoms op die toneel het hulle die twee voertuie aan die linkerkant van die pad aangetref. Albei voertuie het erge skade in die ongeluk opgedoen.

“By nadere ondersoek het paramedici twee mans gevind wat in die motor vasgevang was. ʼn Vrou was in die passasiersitplek van die bakkie, terwyl die bestuurder van die bakkie op die toneel rondgeloop het,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring het een van die mans in die motor geen teken van lewe getoon nie en is hy op die toneel dood verklaar. Die ander man was in ʼn kritieke toestand. Brandbestryders het meganiese toerusting gebruik om die mans uit die wrak te sny en die beseerde man is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

Die vrou in die bakkie is ook ondersoek en daar is gevind dat sy ernstige beserings opgedoen het. Sy is ook na ʼn hospitaal gehaas nadat sy op die toneel gestabiliseer is. Die bestuurder van die bakkie was ongedeerd.

Volgens Meiring is die oorsaak van die ongeluk nie bekend nie en word dit ondersoek.

In ʼn tweede botsing is ʼn man, vermoedelik in sy 50’s, dood in ʼn motorfietsongeluk in Witpoortjie, wes van Johannesburg. By paramedici se aankoms op die toneel het hulle die man op sy rug in die middel van die pad aangetref, met sy motorfiets ʼn kort ent weg.

“Paramedici het die man ondersoek en hom dood verklaar,” het Meiring gesê.

Volgens Meiring is die vermoede dat die motorfiets met ʼn motor gebots het, maar die presiese omstandighede van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Liezl ·

Mense…spoed is nie jou vriend nie. Ek lewer nie kommentaar op die artikel nie, want mens kan nie afleidings maak nie. Ek praat oor die algemeen. Elke dag sien ek op die pad hoe onverskillig mense is. Ons het fone, laat weet as jy laat is. Moenie almal se lewe in gevaar stel, omdat jy laat is nie. Motorfietse wat vleg deur die verkeer, partykeer sien ek jou nie, as ek baan wil verwissel nie. As jy in jou motor klim, het jy ‘n verantwoordelikheid om jou en die mense saam met jou veilig aan die ander kant uit te bring. Waarom soos ‘n besetene te kere gaan, dink mooi voor jy doen of voor jy ‘n kans vat. ‘n Kans is net wat dit sê, jy het ‘n kans om lewend of dood aan die ander kant uit te kom. Vat ‘n beter kans, wees rustig. Niemand gaan vanaand vir jou ‘n medalje gee of ‘n klop op die skouer om te sê welgedaan nie. Niemand gaan vir jou sê, sjoe ek sien jy het die hel uit die aarde gery vandag nie. Sies man!!! Hou net op, jy is nie gewild nie en ons waardeer nie jou manier van ry nie. Dankie moet ek sê vir al die goeie padgebruikers.Dankie dat jy by die Stop straat stop, dankie dat jy toegee waar jy moet, dankie dat jy geduldig is, dankie dat jy die regte spoed ry! JY IS TOPS!

Zella ·

Ek stem saam Liezl. Dit voel of my bloed soms stol in my are as ek sien hoe ry mense. Ek sien soms hoe motorfietsryers op mense se karre se dakke slaan omdat die motoris nie vir die motorfietsryer padgee nie, want hy vleg tussen die karre deur of kom agter ‘n bus uitgejaag, mens sien hom nie Ek sien ook hoe motorbestuurders letterlik op die motorfietsryer se agterstewe ry. Jy soek mos vir moeilikheid. Wees rustig, ons almal sal by ons bestemming uitkom, vroeg of laat. Dis beter as nooit.

Meegevoel ·

Sterkte aan almal betrokke vernaam
die pmedici julle
werk is edel en nooit maklik ek glo en vertrou eksta genade
vir sulke moeilike dae sal daar wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.