2 dood, 7 beseer toe drie motors bots

Die ongelukstoneel. (Foto: Rescue Care)

Twee mense is dood en sewe ander beseer nadat drie voertuie Donderdag op die N3-suidwaarts in Hammersdale in KwaZulu-Natal gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici van verskeie mediese dienste is omstreeks 06:47 na die toneel ontbied waar die drie motors in die regterbaan van die pad aangetref is. Die insittendes het in dié stadium reeds uit die voertuie geklim en op die toneel rondbeweeg.

Volgens Meiring het ʼn man noodlottige beserings in die voorval opgedoen. Daar was niks wat paramedici vir hom kon doen nie en die man is op die toneel dood verklaar.

Nóg ʼn pasiënt was in ʼn kritieke toestand toe paramedici op die toneel aankom. Hulle het gespook om die man by te bring. Sy toestand het egter ál meer agteruitgegaan en hy is ook op die toneel dood verklaar.

Een van die wrakke. (Foto: Rescue Care)

Agt ander het beserings in die voorval opgedoen.

Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, is albei oorledenes vermoedelik in hul 40’s.

Die ander beseerdes is na nabygeleë hospitale in Durban geneem vir mediese behandeling. Die pad was ná die voorval in albei rigtings gesluit en verkeer het opgehoop. Dié opeenhoping het sedertdien opgeklaar.

Besonderhede rakende die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie. Die plaaslike owerhede was wel op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.