2 dood, 8 beseer in gru-ongeluk

ER24-paramedici was op die toneel (Foto: ArriveAlive via Twitter)

Twee vroue is dood en agt mense beseer toe drie ligte voertuie Woensdagmiddag in ʼn ongeluk betrokke was op Elias Motsoaledi-straat in Dobsonville in Johannesburg. Een van dié kritiek beseerdes was ʼn tweejarige kind.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê met paramedici se aankoms op die toneel die middag omstreeks 16:50 het hulle drie voertuie in die middel van die pad aangetref. Drie vroue was binne die voertuie vasgevang. Die ander insittendes het verspreid oor die pad gelê.

Paramedici het die vroue wat in die een voertuig vasgevang was met gespesialiseerde reddingstoerusting uitgekry. Die een vrou het reeds aan haar beserings beswyk. Sy is op die toneel dood verklaar.

Vyf insittendes was in ʼn kritieke toestand. Een van dié was ʼn tweejarige meisie. Vier ander het matige beserings opgedoen.

Paramedici het die beseerdes op die toneel behandel. Hulle is daarna per ambulans na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.

Een vrou het onderweg na die hospitaal ook aan haar beserings beswyk.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Polisiebeamptes was op die toneel om ondersoek in te stel.

Intussen is ʼn sewejarige kind ook Woensdagaand op Tibouchina-weg in Dalton in KwaZulu-Natal oorlede nadat hy deur ʼn ligte voertuig gestamp is. Paramedici is die aand omstreeks 19:10 na die toneel ontbied.

Die kind is op die toneel dood verklaar.

Nog geen verdere inligting oor die voorval is bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.