2 dood, 8 beseer ná taxi teen boom bots

Argieffoto: ER24

Twee mense is dood en agt beseer nadat ʼn taxi Vrydagoggend teen ʼn boom langs die R600 in Winterton in KwaZulu-Natal gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê nooddienste het met hul aankoms op die toneel die taxi langs die pad aangetref.

Twee mense het veelvuldige beserings tydens die botsing opgedoen. Daar was egter niks wat paramedici vir hulle kon doen nie en hulle is op die toneel dood verklaar.

Volgens Meiring het paramedici agt mense met beserings wat van gering tot matig gewissel het op die toneel behandel voordat hulle na ʼn staatshospitaal in Ladysmith gehaas is.

Die omstandighede van die botsing is in die stadium nog onbekend, maar die toepaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel, het Meiring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.