2 dood na aanvallers op veiligheidskonvooi skiet

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans is Woensdag dood en twee is beseer toe ’n groep mans op ’n veiligheidskonvooi losgebrand het wat deur Stanger Manor in KwaZulu-Natal gery het.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die gewapende aanvallers het toe by die ongevallesaal van die Stanger Provinsiale-hospitaal ingestorm nadat die slagoffers daarheen gery het. Die aanvallers het egter weer gevlug sonder om enige skote af te vuur.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, kon nie die voorval in die hospitaal bevestig nie. Hy het gesê die veiligheidskonvooi is omstreeks 06:30 Woensdagoggend deur ’n groep van tussen 10 en 15 mans aangeval.

“Die veiligheidsbeamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is noodlottig gewond. Twee veiligheidsbeamptes het ligte beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”

’n Lid van die veiligheidskonvooi het op pad na die hospitaal aan sy wonde beswyk. “Die verdagtes het in hul eie wegkommotor van die toneel gevlug. Die polisie later die wegkommotor in die Darnall-gebied gevind.”

Naicker het gesê die polisie het ’n man opgespoor wat in ’n hospitaal opgeneem is met skietwonde en dat hy vermoedelik een van die skieters was.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die Valke sal die saak ondersoek. Naicker het gesê dit is te vroeg om oor die motief vir die aanval te spekuleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.