Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die gewapende aanvallers het toe by die ongevallesaal van die Stanger Provinsiale-hospitaal ingestorm nadat die slagoffers daarheen gery het. Die aanvallers het egter weer gevlug sonder om enige skote af te vuur.
Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, kon nie die voorval in die hospitaal bevestig nie. Hy het gesê die veiligheidskonvooi is omstreeks 06:30 Woensdagoggend deur ’n groep van tussen 10 en 15 mans aangeval.
“Die veiligheidsbeamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is noodlottig gewond. Twee veiligheidsbeamptes het ligte beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.”
’n Lid van die veiligheidskonvooi het op pad na die hospitaal aan sy wonde beswyk. “Die verdagtes het in hul eie wegkommotor van die toneel gevlug. Die polisie later die wegkommotor in die Darnall-gebied gevind.”
Naicker het gesê die polisie het ’n man opgespoor wat in ’n hospitaal opgeneem is met skietwonde en dat hy vermoedelik een van die skieters was.
Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die Valke sal die saak ondersoek. Naicker het gesê dit is te vroeg om oor die motief vir die aanval te spekuleer.