2 gevonnis wat Jan Taks uit miljoene swendel

(Argieffoto)

Twee Kaapse sakemanne wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit ʼn reusebedrag probeer bedrieg het, is in die Kaapstadse hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis.

Luis Filipe Duarte D’Almeida Fernandes van Melkbosstrand en Nazmien Warner van Glenhaven in Bellville het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan, het die inkomstediens gesê.

Fernandes het skuldig gepleit op 471 aanklagte wat verband hou met rampokkery, bedrog, korrupsie, asook die korruptering van ʼn SAID-beampte. Tronkstraf vir al die klagte saam beloop 158 jaar. Omdat die vonnisse egter gelyklopend uitgedien word, is hy effektiewelik tot 17 jaar tronkstraf gevonnis.

Warner het skuldig gepleit op 409 aanklagte, waaronder rampokkery, bedrog en korrupsie ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA). Hy is 136 jaar tronkstraf opgelê waarvan hy effektiewelik 16 jaar moet uitdien.

Hulle is Vrydag gevonnis.

Warner moet ook R900 000, sowel as die opbrengs van die verkoop van nege van sy eiendomme aan die SAID terugbetaal.

Die twee het tussen 2008 en 2015 ʼn bedrogskema bedryf deur vals BTW-opgawes ter waarde van R115 miljoen vir opgemaakte sakeondernemings in te dien. Hulle het voorgegee dat hulle goedere in Suid-Afrika koop en dit na die res van die vasteland uitvoer.

Fernandes en Warner het selfs uitvoerdokumente en kwitansies van verskaffers vervals en dit op versoek as ondersteunende dokumente by die belastinggaarder ingedien.

Die SAID is eindelik met R111 miljoen ingeloop.

Warner het boonop aan sy werkers voorgegee dat hy hul belasting aan die SAID oorbetaal, terwyl sy maatskappye in werklikheid nooit eers by die inkomstediens as werkgewers geregistreer is nie. Dié aanklagte was deel van die klagstaat teen hom.

Die twee het erken dat hulle die hulp van ʼn SAID-beampte gehad het om toestemming vir terugbetalings te kry. Die saak teen dié beampte is uitgestel, maar Warner en Fernandes het reeds ingestem om teen hom te getuig.

Die twee bedrieërs het die geld gebruik om verskeie mislukte projekte te finansier, asook vir ʼn internet-dobbelwebwerf, laekostebehuisingsprojekte in Namibië en Kameroen, die invoer en installering van swaaideure en ʼn voorafbetaalde petrolkaart.

Hulle het ook geld uitgegee op ʼn weelderige leefstyl, reise, voertuie en ander luukshede. Warner het van die geld in eiendom belê.

“Teenstrydig met dit wat mense glo, is belastingbedrog nie sonder slagoffers nie. As jy die stelsel doelbewus bedrieg deur ʼn terugbetaling te eis waarop jy nie geregtig is nie, steel jy van die hele gemeenskap en pleeg jy ʼn onreg teenoor wetsgehoorsame Suid-Afrikaners,” het die SAID gesê.

Die inkomstediens sê die vonnisse is ʼn aanduiding van sy verbintenis om belastingbedrog op te spoor en bedrieërs te laat vervolg en moet gesien word as ʼn waarskuwing aan ander wat dink hulle kan daarmee wegkom.

Edward Kieswetter, SAID-hoof, het gesê die instelling is stadigaan besig om sy verlore kapasiteit te herwin.

“Terwyl ons probeer om die stelsel vir eerlike belastingbetalers te vergemaklik, verbeter ons ook ons vermoë om misdadigers en nalatige belastingbetalers op te spoor en te verseker hulle word suksesvol vervolg,” het Kieswetter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

soos reeds gese is, kry al die staatsdepartemente om ‘n saamgestelde data basis te vorm, waar vinger afdrukke, belasting nommers, voertuig lisensies, water en ligte, ens., dan kan hulle sien wie die skuldiges is en sommer sien wie mag stem en wie mag nie
dit sal baie van die ongemagtigdes in die land ook wegneem

Nie Verbaas ·

En JZ, Guptas en ander kaders wat land ruineer het nog steeds vry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.