2 in hof ná Sasolburg-sakeroof

Argieffoto ter illustrasie van ‘n supermark. (Foto: Unsplash)

Twee verdagtes sal vandeesweek in die landdroshof in Sasolburg in die Vrystaat verskyn op aanklagte van moord en sakeroof nadat hulle en verskeie ander makkers verlede week op ʼn supermark in dié dorp toegeslaan het. Een van hulle is gedurende die voorval doodgeskiet.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê in ʼn verklaring polisiebeamptes het Donderdag omstreeks 23:00 op ʼn klagte van sakeroof reageer nadat ʼn sekuriteitsmaatskappy alarm by die eienaar van die supermark gemaak het.

Die eienaar het die polisie in kennis gestel waarna hy die supermark vir die polisiebeamptes oopgesluit het om ondersoek in te stel.

Volgens Makhele het die polisiebeamptes van die verdagtes op die eerste verdieping van die supermark onkant betrap waarna ʼn verdagte op die polisiebeamptes losgebrand het. Een van die beamptes is in die proses gewond.

Die beamptes het toe teruggeskiet en een van die verdagtes (27) is doodgeskiet.

Makhele sê een van die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan. Die polisie het die hulp van die polisie se taktiesereaksie- en honde-eenheid ingeroep waarna twee verdagtes, wat elders in die supermark weggekruip het, in hegtenis geneem is. Hulle is onderskeidelik 27 en 33 jaar oud.

Die gewonde beampte is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling

Dit is nie duidelik hoeveel verdagtes by die sakeroof betrokke was nie.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om AO Shaun Paeschel by 074 110 6414 te nader.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.