2 jaar ná Lily-mynramp: ‘Ons eis geregtigheid’

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Twee jaar nadat ʼn skeepshouer met drie mynwerkers daarin in ʼn reuse-sinkgat verdwyn het toe ʼn gedeelte van die Lily-myn naby Barberton, Mpumalanga, ineengestort het, is die ondersoek na die tragedie afgehandel.

Dit is vandag presies twee jaar sedert die Lily-mynramp, toe die ingang tot die myn op 5 Februarie 2016 ineengestort het. ʼn Skeepshouer wat as ʼn lampkamer gebruik is, het tydens die ineenstorting onder reuseklippe en grond beland. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi, wat ten tyde van die tragedie in die skeepshouer was, is sedertdien nog nie gevind nie.

“Die vakbondfederasie Cosatu onthou die drie Lily-mynwerkers wat steeds ondergronds vasgevang is,” het Sizwe Pamla, Cosatu se nasionale woordvoerder, Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Ons vind dit steeds aanstootlik dat die werkers se liggame nog nie opgespoor en na die oppervlak gebring is nie, asook dat niemand nog aanspreeklik vir die ongeluk gehou is nie. Cosatu versoek steeds dat die verantwoordelike partye vervolg word. Ons eis steeds geregtigheid vir die Lily-mynwerkers.”

Cosatu het die mynbestuur daarvan beskuldig dat hulle wins bo die veiligheid van werkers gestel het.

Intussen het Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, Maandag gesê die regering het sy ondersoek na die tragedie afgehandel en die verslag gaan in die volgende paar dae aan die departement van minerale hulpbronne gestuur word vir verdere beslissing.

“Ons het almal eens dat klaring in dié kwessie kritiek is, veral vir die families van die drie werkers,” het Zwane gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ons vind dit ook werklik aanstootlik dat 143 gestremde pasiënte dood is, en 40+ vermis word, asook dat niemand aanspreeklik vir hierdie tragedie gehou is nie. Ek versoek steeds dat die verantwoordelike partye vervolg word. Ek eis steeds geregtigheid vir die Esidimeni slagoffers. Ek beskuldig die Department van Gesondheid dat hulle “finansies” bo die veiligheid van hierdie pasiënte gestel het. Dis tyd dat die dubbele standaarde wat daagliks in hierdie land uitgeleef word, met onmiddelike ingang gestop word.

Ray ·

Ek stem heelhartig saam met Gemaskerde Sopbeen. Ons leef bo op soveel myn bedrywighede, asook problematiese areas. Neem as voorbeeld die sinkgat in Centurion. Dus die skuldige was waarskynlik …………. Die sinkgat. Met Esidemeni was mense verantwoordelik vir die besluite. Dit is werklik baie tragies dat mense hulle lewens verloor by myne, ek self was al heelwat ondergrond in verskillende myne, ongelukkig kan daar nie voorspel word wanneer so iets gebeur, en as jy ondergrond of bo-grond werk op ‘n myn is jy bewus van die risiko. Ek weet ook dat die myne in Suid Afrika oor die algemeen hulle bes doen om die veiligheid van werkers te beskerm. In baie gevalle so erg dat dit produktiwiteit in ‘n groot mate affekteer.

Ons sal maar in die verslag sien wat die uitkoms was en as iemand verkeerd gehandel het, dan ja doen iets daaromtrent, maar ek dink die dag wat die regering dit regkry dat daar geen padongelukke plaasvind op ons paaie nie (veiligheid van motoriste word deur slaggate bedreig en nie veel word daaromtrent gedoen nie), dan kan ons ook vorder, maar ek dink hulle kan eintlik gaan lesse neem by die myne oor veiligheid en vermyding van ongelukke.

Ai is ek nou vd onderwerp af, maar grondverskuiwings is nie noodwendig beheerbaar nie. Esidemeni en slaggate ens is wel.

health and safety ·

Gaan kyk maar by die myne wat se bedrae word spandeer aan HEALTH AND SAFETy, Goudmyne spesifiek,,,,,,,,,,,,,,,,,,,een maatskaapy, selfde maatskappy, en doen n ondersoek na die praktyke by die Maatskappy.

BR ·

Verbeel ek my , maar hierdie ramp word baie,baie, meer verdraagsaam hanteer as
ander soortgelyke gevalle.
Wat is rede?

marous ·

Australies , Asiaties en Britse aandeelhouers . Ramaphosa behoort die grootkoppe by die naam te ken……

Ja ne ·

Die geregtigheid gaan baie beslis gucci en ferari insluit. Die arme familie sal nie iets kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.