2-jarige ernstig beseer in botsing

Die ongelukstoneel op die R23 oos van Johannesburg . (Foto: ER24)

Tien mense, onder wie ’n tweejarige kind en haar ma, is Dinsdagaand beseer toe vier motors en ’n taxi op die R23 oos van Johannesburg gebots het.

Dié botsing volg kort nadat ’n jong vrou kritieke beserings in ’n motorongeluk in die Vaaldriehoek opgedoen het.

Oos van Johannesburg het paramedici Dinsdag kort na 19:00 op ’n ongelukstoneel aangekom waar ’n tweejarige dogtertjie met ernstige beserings aangetref is, het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ’n verklaring gesê.

Volgens Vermaak is die kind op die toneel behandel voordat sy na ’n nabygeleë hospitaal gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Die nege ander pasiënte, onder wie die dogtertjie se ma, het ligte tot matige beserings in die voorval opgedoen. “Die ma van die kind moes deur die plaaslike brandweer uit [die wrak van] ’n voertuig getrek word,” het Vermaak gesê.

Dié pasiënte is gisteraand na die Pholosong-hospitaal in Tsakane, Brakpan, vervoer vir mediese behandeling.

Die omstandighede rakende die voorval is nie in dié stadium duidelik nie.

Die plaaslike owerhede was wel op die toneel om ondersoek in te stel.

In die Vaaldriehoek het ’n vrou (23) kritieke beserings opgedoen toe haar voertuig verskeie kere gerol en sy uit die voertuig geslinger is. Die motor het in die proses bo-op haar beland.

Dié voorval het laat middag op die R57 in Stonehaven, Vanderbijlpark, plaasgevind.

Volgens Vermaak het paramedici kort voor 18:00 op die toneel aangekom waar hulle die vrou naby die wrak van die voertuig aangetref het. “Sy het kritieke beserings opgedoen en dit blyk dat die voertuig bo-op haar beland het.”

Die vrou is op die toneel op aan lewensondersteunende toerusting gekoppel waarna sy na die Mediclinic Emfuleni gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Die omstandighede rakende dié voorval is in dié stadium ook onduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.