2-jarige in kritieke toestand by kliniek aangebring

Argieffoto: Pixabay

ʼn Saak van poging tot moord word ondersoek nadat ʼn tweejarige dogtertjie vandeesweek met kritieke beserings by die Motherwell-kliniek in die Oos-Kaap afgelaai is.

Die kind is tans in ʼn kritieke toestand op lewensondersteuningsmasjiene in die Dora Nginza-hospitaal aan die buitewyke van Port Elizabeth.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, sê die dogtertjie is Maandag deur ʼn onbekende vrou na die kliniek gebring. Die peuter het ernstige beserings gehad en dit blyk asof sy aangerand is. Volgens Beetge het die vrou geweier om haar naam vir mediese personeel te gee en het sy bloot die dogtertjie as “Mazi” geïdentifiseer. Sy is daarna inderhaas daar weg.

Die kind is vinnig na die Dora Nginza-hospitaal oorgeplaas weens die ernstige aard van haar kopbeserings.

ʼn Maatskaplike werker by die hospitaal het die polisie gister in kennis gestel van die geval en ʼn saak van poging tot moord is aanhangig gemaak. Die saak is aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade oorgegee wat dit verder ondersoek.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help in hul ondersoek, word versoek om kapt. Michael Shannagen by 082 779 7292 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LD ·

Age neee!!! Dit breek my hart om die soort stories te lees! Arme kindjie! Wie ookal verantwoordelik is vir dit moet aan die boendoe bende oorhandig word laat hulle met hom/haar of hulle afreken!

ne ·

Is daar nie kameras op om vas te stel wie haar afgelaai het nie? Die personeel kan haar darem seker beskryf. Sy moet doodstraf kry!

P ·

Ek hoop die arme kindjie se aanranders word gevind. Die arme,arme kind, mag die Vader hulle genadig wees,hulle weet nie wat hulle doen nie.

GM ·

Ne, jy sê sy moet doodstraf kry, maar het jy daaraan gedink dat dit moontlik iemand kon wees wat die kind te hulp gesnel het en haar kliniek toe geneem het, en nie noodwendig die een wat haar aangerand het nie?

Mag die dogtertjie herstel, en haar aanrander boet!

Linda ·

Hospitaal se sekuriteit moes keer dat die vrou die hospitaal verlaat.

Jean van Rensburg ·

Ag vader tog dis absoluut verskriklik..wie kan so iets doen…dis net hartverskeurend!

Nico ·

Sterkte vir die arme kind! Dora Ngiza. Is dit ‘n ander hospitaal as Cecilia Makiwane?

Leonie ·

Die arme dogtertjie is reeds Maandag by die hospitaal afgelaai en die maatskaplike werker rapporteer dit eers gister by die polisie?? Sekerlik moes die personeel dit dadelik gerapporteer het? En dit gaan my verstand te bowe dat enige “mens” n arme onskuldige kind so kan seermaak en mishandel.

Wilma ·

Ma hart huil vi dai kindjie. Mag God en die boendoe hof met die robbies wie skuldig is afreken.

Lynette ·

P. EKSKUUS???? Weet nie wat hulle doen nie??? Die snert wat darem kwytgeraak word deur gelowiges….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.