2 ‘kapers’ gewond in skietery met polisie

Argieffoto

ʼn Vermeende kaper is vandeesweek in hegtenis geneem en twee ander gewond gelaat ná ʼn skietery met polisie in Durban, het die polisie Saterdag gesê.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn verdagte (20) het Vrydag in die Umlazi-landdroshof verskyn nadat hy vroeër vandeesweek saam met twee makkers in ʼn gesteelde motor betrap is. Dié motor is in Junie vanjaar in Merebank gekaap.

Volgens Mbele het die polisie Donderdag die gesteelde motor met drie insittendes in Siqungaweg opgemerk. Die polisie het beduie dat die bestuurder van die motor moet stop. Die bestuurder het die motor tot stilstand gebring waarna die twee passasiers te voet laat spaander het.

Die bestuurder is in die voertuig aangekeer en op die plek in hegtenis geneem terwyl polisiebeamptes die twee ander verdagtes agternagesit het.

Dié verdagtes het in Msinganeweg op die polisie geskiet wat op hul beurt teruggeskiet het. Die verdagtes is gedurende die skietery gewond en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Mbele sê die polisiebeamptes het op ʼn vuurwapen en drie ladings ammunisie in die verdagtes se besit beslag gelê. Die verdagtes, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud, sal na verwagting van poging tot moord asook die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie aangekla word en binnekort in die landdroshof verskyn.

Die aangekeerde verdagte bly in aanhouding by die Umlazi-polisiestasie. Hy word aangekla van die besit van gesteelde eiendom.

Al drie word ook verbind met ʼn motorkaping wat vroeër by die Wentworth-polisiestasie aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Ws ·

Als goed en wel maar met regters wat nie hul werk doen nie is dit hopeloos.

Renee ·

Ek salueer Natal se polisie hulle weet wat om te doen en is nie bang nie. Nie soos Gauteng jy bel hulle dan kom hulle die volgende dag uit. Te bang vir konfrontasie ????????????????????????????????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.