2 polisiemanne hoor oor borgtog ná student se dood

Die twee polisiebeamptes in die hof. Foto: ANA

Die twee polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is in verband met die dood van ʼn student aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT), het Dinsdag in die Soshanguve-landdroshof verskyn.

Die beamptes, ʼn konstabel en ʼn kaptein, is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat en die saak is tot 25 Januarie uitgestel.

Die beamptes word aangekla van die moord op Katlego Andries Monareng wat op 23 Augustus op TUT se Noord-kampus in Soshanguve doodgeskiet is. Hy was ʼn finalejaar-regstudent.

Die twee beamptes is Maandag deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in hegtenis geneem in verband met Monareng se dood.

Emosies het hoog geloop by die hof waar honderde TUT-studente bymekaargekom het en polisiebeamptes teruggedruk het in ʼn poging om die hof binne te gaan.

Studente buite die hof. Foto: ANA

Studente was ontstoke nadat die beamptes op borgtog vrygelaat is. “Ons as studente is ongelukkig want dit voel of daar onderskeid getref word tussen normale burgers en beamptes van wetstoepassingsagentskappe,” het Thabang Kilo Boima, ʼn studenteleier by TUT, gesê.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê hulle het met die Nasionale Vervolgingsgesag beraadslaag oor die saak en dat die bewyse aandui dat daar ʼn sterk saak teen die beskuldigdes is.

Willa de Ruyter, woordvoerder van TUT, het die vordering in die saak verwelkom. Sy het ook gesê ʼn ondersoek na beweerde ongerymdhede tydens die verkiesing van die studenteraad vorder goed. “Die universiteit het ʼn voorlopige verslag ontvang, maar uitdagings soos die sluit van die Soshanguve-kampus het die ondersoek en die uitreiking van die finale verslag vertraag.”

Daar was ‘n sterk polisieteenwoordigheid buite die hof. Foto: ANA

Die ondersoek sal na verwagting teen die einde van die maand afgehandel wees. Monareng se dood het gevolg nadat ʼn verkiesing van die studenteraad tot ʼn bakleiery gelei het. Die polisie is ontbied. Volgens ooggetuies het die polisie glo met skerp ammunisie op studente losgebrand. Monareng is doodgeskiet en nog ʼn student is gewond.

TUT het ná Monareng se dood ʼn week van rou aangekondig. Klasse is daarna sporadies hervat, maar moes kort daarna opnuut opgeskort word nadat chaos losgebars het. Gewelddadige betogings en vandalisme wat studente en personeel op dié kampusse se veiligheid bedreig het, het die universiteit genoodsaak om klasse op te skort.

Akademiese aktiwiteite is eers weer op 8 Oktober by die twee Soshanguve-kampusse hervat.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Al ·

Ek hoop die wettelose studente word onder dieselfde kam geskeer as die polisiebeamptes.
Die finale jaar regstudent het deelgeneem aan kriminele aktiwiteite – hoe kan sulke professionele beroepsmense waardig staan in SA se diens – met sulke swak gedrag?
Studente wat polisie terugdruk met hul betogings by hof – geen respek vir autoriteit nie.
Die staat moet stop om kriminele gedrag goed te praat en hul sg. Slagoffers noem.
Nee a!

HPV ·

Sterkte aan die polisie en julle gesinne in die tyd, julle probeer net julle werk doen en is geregtig om julself te verdedig.
Jammer ook dat die student moes sterf, lê dit voor die anc regime se deur.

Lee ·

Ek is aan die beamptes se kant. Part van die student het gladnie maniere nie. Hulle sou hom wraggies nie net doodgeskiet het nie. Ek het al gesien hoe lekker kan daai ander nasie saam lieg as hulle weet hulle is eintlik verkeerd. Vandag se student ruk net hand uit. Plaas hulle leer. Baie sterkte vir die Polisie beamptes en ek hoop na harte julle kom los.

Elizabeth ·

As die studente hulleself soos toekomstige professionele mense gedra het, was daar geen saak nie. My simpatie lê by die polisie wat so maklik die skuld kry nadat mense hulleself te buite gegaan het …

DA BO ·

Soory polisiemanne dat julle nou hof toe moet gaan en dit oor julle jul werk probeer doen.

marous ·

Alles deel van beplanning om anargie te laat heers deur die regeerders van die hool . cele se groot pratery oor skiet is nou tjoep stil …..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.