2 se verdwyning ‘hou dalk verband met terreur’

Argieffoto

Die Valke het Woensdag gesê hy ondersoek die moontlikheid dat die verdwyning van ʼn Wes-Kaapse paar moontlik met terreur verband hou.

ʼn Landwye soektog na die twee, wat vermoedelik op 12 Februarie in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer is, is vandeesweek van stapel gestuur.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, wou nie die identiteit van die twee persone bekend maak nie, maar het wel bevestig dat die paar ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk het. Volgens Ramovha woon die twee tans in Kaapstad.

Ramovha het gesê die Valke het tot dusver twee verdagtes in hegtenis geneem wat moontlik met die paar se verdwyning verbind kan word.

Sayfydeen Aslam del Vecchio (38) en Fatima Patel (27) het Maandag vlugtig in die landdroshof op Vryheid verskyn.

Del Vecchio en Patel word aangekla van ontvoering, brandstigting en moontlik ook van terreur.

“Die ondersoek is in ʼn baie sensitiewe stadium. Die Valke kan ongelukkig nie in dié stadium die inligting deel wat uit die ondervraging van die twee verdagtes vasgestel is nie. Ons kan wel bevestig dat ʼn man en ʼn vrou vermis is en dat ons nié die moontlikheid van terreur uitsluit nie,” het hy gesê.

Die saak van brandstigting teen Del Vecchio en Patel hou verband met ʼn voorval waarin suikerrietlande in Hulett in 2017 aan die brand gesteek is. Volgens Ramovha het die skade van die brand sowat R2 miljoen beloop.

Del Vecchio en Patel sal weer op 1 Maart vir ʼn formele borgtogaansoek in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

Hierdie klink interessant. Sal graag wil hoor wat kom alles te voorskyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.