2 skuldig aan wrede moord op bejaarde

hof-hamer

Argieffoto

Twee mans is vandeesweek in die plaaslike hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan die wreedaardige moord op die 86-jarige Anne Smith van dié stad in die Oos-Kaap.

Smith is in Mei 2018 in haar huis in Kammapark met ’n hamer aangeval en het sowat ’n maand later in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê Sizwe Jika (28) en Junior Lungisa (20) is Donderdag skuldig bevind aan moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

Lungisa is sowat twee maande ná die aanval in Missionvale in hegtenis geneem. Jika is in Oktober dieselfde jaar in Aliwal-Noord aangekeer. Jika word aan twee ander moordsake verbind waarvoor hy tans verhoorafwagtend is.

Volgens Naidu het Jika ook in Mei verlede jaar skuldig gepleit op ses aanklagte van huisbraak waarvoor hy reeds tot 16 jaar tronkstraf gevonnis is. Dié misdade is tussen 2011 en 2018 gepleeg.

Jika en Lungisa sal na verwagting op 14 April gevonnis word vir die moord op Smith.

Maroela Media het destyds berig Smith was in ʼn kritieke toestand toe sy ná die aanval in die waakeenheid van ’n plaaslike hospitaal opgeneem is. Sy het bloeding op die brein gehad.

Smith het nooit tot so ʼn mate herstel dat die polisie ʼn verklaring by haar kon afneem nie.

Luidens inligting het ʼn buurman van Smith op 28 Mei 2018 omstreeks 13:00 gesien hoe twee mans oor die muur om haar erf in Marthastraat in Kammapark spring. Hy het die verdagtes agternagesit en hulle het ʼn sak met waardevolle besittings, waaronder ʼn skootrekenaar en kameras, laat val.

Die buurman en ander inwoners is daarna na Smith se huis, waar hulle haar in ʼn plas bloed op die vloer aangetref het. Sy is vermoedelik met ʼn hamer aangerand toe sy die mans betrap het terwyl hulle haar huis geplunder het.

Smith het ten tyde van die voorval saam met haar volwasse seun, wat doof en verstandelik gestrem is, gewoon. Hy is ongedeerd gevind, maar kon nie vir die polisie sê wat gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agter die skerms..... ·

Tannie Anne Smith RIV die mense wat jou lewe net geneem het is gevonnis. Die menslikheid in my is stadig besig om te kwyn. Hulle word gevonnis en gaan dan tronk toe maar dit bring nie ‘n lewe terug nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.