2 sterf op Vaalrivier: ‘Sy hele hart was net mooi’

SP Brooks en sy meisie, Anri van Heerden, met wie hy sowat ’n jaar lank tot sy dood uitgegaan het. Foto: Facebook

“Hy was een van die sagste, opregste mense wat ek geken het,” het ʼn emosionele Anri van Heerden Dinsdagoggend vertel van haar kêrel, SP Brooks, wat Sondagaand in ʼn bootongeluk op die Vaalrivier by Douglas in die Noord-Kaap gesterf het. “Hy sou nie ʼn vlieg seermaak nie.”

Die 24-jarige Brooks en Willem (Buks) Burger (48) is dood en Brooks se oom, Johan Croucamp, beseer toe hul motorboot omstreeks 18:45 Sondag blykbaar ʼn sandbank getref en in ʼn boom vasgejaag het. Brooks is uit die boot geslinger.

“Die rivierhuis waarin hy, oom Johan en Buks vir die naweek gebly het, se ligte was nog aan en die musiek het nog gespeel,” vertel Van Heerden. “Soos ek hulle ken, wou hulle nog ʼn laaste draai gery het voor hulle die boot vir die naweek uit die water sou haal.”

Die 18-jarige Van Heerden het die tyding kort ná 21:00 op Stellenbosch gekry, waar sy perdestudies aan die Elsenburg-landboukollege studeer. Haar pa, Handré van Heerden, het dadelik die 1 500 km gery om haar te gaan haal. “Ons het Maandagnag twaalfuur by die huis in Klerksdorp aangekom. Ek wil nog vandag Douglas toe gaan.”

Van Heerden vertel Brooks, wat oorspronklik van Prieska af kom, het sowat vyf jaar gelede na Koffiefontein in die Wes-Vrystaat verhuis. Hy het sowat drie maande gelede as elektrisiën gekwalifiseer.

Van Heerden vertel sy het Sondagaand begin stres toe sy nie van haar kêrel van die afgelope jaar hoor nie. “Hy het my elke aand vertel hoe lief hy vir my is.”

Van Heerden vertel Brooks het haar elke dag vertel hoe lief hy haar het. FOTO: Facebook

Sy suster Sumien se kêrel, Greg van Vuuren, het Van Heerden van die ongeluk laat weet nadat van Brooks se vriende op die ongelukstoneel afgekom het.

“Ons sou die naweek plaas toe gegaan het om sterre te kyk,” het sy deur haar trane vertel. “SP was baie romanties. Almal was verskriklik lief vir hom. Hy was dierbaar; sy hele hart was net mooi.”

Van Heerden onthou Brooks as lojaal en godsdienstig, en vertel hy was lief vir die rivier en visvang.

Hy word oorleef deur sy susters, Sumien Brooks en Tineké Jacobs, en sy ouers, Tina en Steve.

Kapt. Olebogeng Tawana, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leser ·

dis ‘n slegte tragedie, sterkte aan almal wat deur sy dood geraak word
ek sal julle in my gebede onthou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.