2 vas ná moord in Greytown

Argieffoto

Twee verdagtes is vandeesweek in hegtenis geneem vir die moord op ’n 67-jarige man van Greytown in KwaZulu-Natal.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Mqondeni Zondi was Maandag omstreeks 14:00 op reis op die D77 Ntembisweni-pad toe drie gewapende mans in ʼn voertuig dié pad versper het.

Zondi se motor is tot stilstand gedwing waarna die mans hom uit sy bakkie gesleep en in die kop geskiet het. Hy is op die toneel dood.

Volgens Zwane het die drie verdagtes daarna die man se bakkie aan die brand gesteek en toe op die vlug geslaan.

Zondi se liggaam is later deur ʼn boer in die omgewing gevind waarna ʼn saak van moord en kwaadwillige beskadiging van eiendom by die polisie aanhanging gemaak is.

’n Verdagte (30) is kort daarna deur die polisie in Ntembisweni opgespoor nadat hy in die besit van ’n vuurwapen met 18 patrone betrap is. Dié vuurwapen is gestuur vir ballistiese toetse om te bevestig of dit voorheen in ander misdade in Greytown en omliggende gebiede gebruik is.

Die man was ook in besit van die voertuig waarin die verdagtes die betrokke dag die pad versper het en hy is in hegtenis geneem.

Verdere ondersoek het die polisie Donderdag na ʼn tweede verdagte (28) in Makhabeleni naby Kranskop gelei. Die man is op die plek in hegtenis geneem.

Die twee mans sal Maandag in die Greytown-landdroshof verskyn in verband met die moord op Zondi. Die polisie is steeds op soek na ’n derde verdagte, het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Swanna ·

Hel! vinnig kan die saak opgelos word en persone aangekeer word maar ‘n plaasmoord nie.

Pikkewyne ·

Moet jou nie steur aan die res van die mense nie. Hulle kop is nog in die sand weggesteek. Ek en menigte ander verstaan jou standpunt…

Ema ·

Kom ons gee die pollisie eer dat hulle wel die moordenaars so vinnig opgespoor het. Vergeet van die rassistiese aanmerkings. Prys liewers die wat hul werk doen en dit goed doen.

Terreur ·

Waar is die rasistiese aanmerkings? Ek soek en kry niks…

Riens ·

HIerdie arme man moes ingewag gewees het….. lyk eerder soos n sluipmoord. Ons land is vrot van moordenaars en verkragters. Strafwet steeds te swak en n grap

Lynette ·

Wil net graag weet of daar n passasier in die oorledene se motor was, want hoe het die polisie geweet die pad was geblok en watter voertuig gebruik is en hoeveel persone betrokke was. Ook presies wat gebeur het. Daar moes n ooggetuie wees want polisie is nie psigies nie.

Ooggetuie ·

Uhm, Lynette, die pad was 2-uur in die namiddag geblok. ‘n Pad word deur baie mense gebruik, dus was die ooggetuies sekerlik ander padgebruikers.

Lynette ·

Ja Ooggetuie, en hulle vermoor die man sommer so voor al die ooggetuies? Klink in elk geval na n baie stil pad.

Ooggetuie ·

Ja Lynette, daar gebeur op ‘n gereelde basis moorde, kapings, padwoedeaanvalle, transitorooftogte ensovoorts voor dosyne getuies, helder oordag.

Gerhard ·

As julle op Google Maps gaan kyk sal julle sien dat dit ‘n grondpad suid van Greytown is, en dat dit aanvanklik deur boerderygebied loop, en dan, soos dikwels in KZN die geval is, deur stamgebied. In die middel van die dag sou die pad baie stil gewees het, maar daar sou waarskynlik geen tekort aan ooggetuies gewees het nie. As ‘n boer daarop afgekom het, kan ons redelik seker wees dat dit in die strook wat deur die boerderygebied loop, gebeur het. Dit lyk na ‘n goed georganiseerde huurmoord, want die blokkasie sou só moes gebeur dat die ‘regte’ voertuig geblokkeer sou gewees het.

Rubber ·

Reis deur Suid Afrika. Dis veilig. Net 57 moorde ‘n dag.

George in Bloem ·

My swaer is jare lank al in die polisie se moord en roof eenheid en het ook vroeer jare diens gedoen in Koevoet en het baie aksie daar beleef en hy se vir my nou die dag dat huurmoord in ons land drasties toeneem en dat dit goedkoop is. Ek kan net my kop skud vir die dinge wat deesdae aangaan en hoe goedkoop ‘n lewe geword het . En blykbaar is die persentasie van hierdie mense wat gevang word,verhoor en dan uiteindelik gevonnis word en dan uiteindelik tronk toe gaan,baie klein. En dan weet ons almal mos nou al teen die tyd dat nie een van hulle ooit so lank sit as wat die regter in gedagte gehad het nie. Dit maak eintlik ‘n bespotting van ons regstelsel en die skurke weet dit maar al te goed.

Anoniem ·

Ons land is sick en nee die die cancer regering is sick hoeveel mense moet nog hul lewens verloor. Cancer regering het mos geen worries nie cosy huise sekuriteit net waar jy kyk leef in weelde op ons geld maar kan nie hulle burgers beskerm teen hierdie kriminele nie. Pateties verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.