2 vas ná moord, roof by juwelierswinkel

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Twee verdagtes is Woensdag in hegtenis geneem nadat ’n groep gewapende rowers vroeër die dag op ’n juwelierswinkel in Nigel in Gauteng toegeslaan, die winkelier geskiet asook skote tydens die vlugtog op ’n sekerheidsmotor buite die winkel afgevuur het.

’n Passasier van dié motor is in die voorval doodgeskiet.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê twee gewapende mans het ’n juwelierswinkel in Hendrick Verwoerdstraat binnegekom waar hulle die 35-jarige winkelier geskiet en gewond het.

Nog twee gewapende verdagtes het hulle glo later by hul makkers aangesluit waarna die groep met ’n onbekende bedrag kontant en juweliersware op die vlug geslaan het.

Terwyl die verdagtes gevlug het, is skote op ’n privaat sekerheidsvoertuig afgevuur en een van die passasiers is doodgeskiet.

Die verdagtes het ’n Ford Figo gekaap waarna hulle weggejaag het.

Volgens Makhubele het polisiebeamptes op patrollie in die omgewing die kaping gewaar en die verdagtes agternagesit. Dit het ’n jaagtog tot gevolg gehad terwyl die polisiebeamptes en verdagtes oor en weer op mekaar geskiet het.

Die polisiebeamptes kon wel daarin slaag om die verdagtes aan te keer en twee is in hegtenis geneem. Die ander twee het inhegtenisneming ontduik en is steeds soek.

Die twee verdagtes in aanhouding, onderskeidelik 28 en 29 jaar oud, staan nou tereg op aanklagte van sakeroof, moord, poging tot moord asook motorkaping.

Hulle sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof op dié aanklagte verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JM

Ons het altyd gedink dat die Wilde Weste erg was … Moord en roof het deel van ons samelewing geword.