Twee mans is in hegtenis geneem nadat vyf gesteelde motors, insluitend ʼn minibus van die polisie, in hul besit gevind is.
“Die mans is Vrydag in Senoane in Soweto in hegtenis geneem nadat lede van die Johannesburg-misdaadbekampseenheid en die blitspatrollie ʼn wenk ontvang het,” het hoofsuperintendent Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Die twee mans, in hul vroeë 30’s, het drie Quantum-minibusse, een Corsa-voertuig en ʼn Sonata-motor in hul besit gehad. Die voertuie is vroeër as gesteel aangemeld.”
Volgens Minnaar is een van die Quantum-bussies ʼn polisievoertuig wat in Maart 2015 gesteel is. Die voertuig is van al sy polisiekentekens gestroop en wit geverf.
“Dieselfde verdagtes is in April in hegtenis geneem in verband met ʼn gesteelde Ford Territory,” het Minnaar bygevoeg. “Die verdagtes sal binnekort in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde voertuie.”
Hoe kan 2 verdagtes 2 maal in 2 maande gearresteer word vir dieselfde misdaad? Hoe het hulle weer op straat gekom – ons tandelose regters, hulp deur ons tronkbewaarders of polisie wat weer omgekoop is?