2 vas vir bedrogspul van R244 miljoen

(Argieffoto)

Die Valke het vanoggend twee verdagtes in die Vrystaat in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by bedrog van R244 miljoen wat gedurende die ondersoek na die omstrede Estina-suiwelprojek in dié provinsie oopgevlek is.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het in ’n verklaring gesê die direkteur van die maatskappy Superior Quality Trading, wat ook as Rekgonne Community Projects bekend staan, en ’n voormalige finansiële hoof van die departement van landbou en landelike ontwikkeling is in die Vrystaat in hegtenis geneem in verband met die beweerde bedrog.

Strafregtelike aanklagte is vroeër teen Rekgonne Community Projects aanhangig gemaak nadat dit in Junie 2014 ’n ooreenkoms met die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat aangegaan het om alle projekte namens die departement vir ’n tydperk van twee jaar te implementeer.

Volgens Mogale het die departement tussen Januarie 2012 en Desember 2016 meer as R244 miljoen aan Rekgonne Community Projects betaal.

“Daar is gedurende die ondersoek na die Estina-saak afgekom op onreëlmatighede tydens die ontleding van ʼn sekere bankrekening . Daar is na bewering groot bedrae geld in die bankrekening inbetaal wat aan die voormalige finansiële hoof van die departement van landbou en landelike ontwikkeling behoort,” het Mogale verduidelik.

Volgens Mogale het die voormalige finansiële hoof na bewering meer as R260 000 van dié geld ontvang.

Die verdagtes, onderskeidelik 55 en 49 jaar oud, sal na verwagting Vrydag in die Bloemfonteinse streekhof op aanklagte van bedrog en geldwassery verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Martie Smartie ·

En dit vat die FIC/ Hawks jare en jare om dit agter te kom … Ai

Pampoen ·

Na soveel jaar kry hulle twee in die Vrystaat. Dis oor hulle op die verkeerde plek soek. Die groot kanonne sit in die parlement!

ES ·

Die hartseer ding is, mense sit langer in die tronk vir bedrog as vir moord…

Stofdonkie ·

Maar die mense word nie sommer vasgetrek vir die bedrog nie. Hierdie twee narre is 4 jaar weg van die transaksies af. R244miljoen, ai tog my lewe sou veel anders lyk as ek net 1 miljoen kon kry en die twee het 244 daarvan.

Kokerboom ·

Wat van die groot Induna in Luthuli huis? Gaan hy soos met alles weer skotvry afkom. Vonnis die kriminele tot lewenslank asb en lê beslag op AL hul bates..dit behoort aan die belastingbetaler. En…CR weet niks!!!!

Johanncb ·

Hopelik is hierdie die begin van die werk wat deur die Zondo-kommissie aangepak is! Ek glo dat ons nou effektiewe vervolging van heelwat meer geldwassers sal sien!

Amatambo ·

Enne – wat van Ace Magashule? Wanneer word daardie belhamel inhegtenis geneem na al sy bedrog in die Vrystaat? Of is hy bo die wet verhewe???

Pieter ·

Tien duisend borg dan kan julle gaan. Die saak gaan vyf jaar vat en die doket gaan weg raak.Dit is hoe dit werk in afrika

Sobymykoolkop ·

Gaan haal vir ACE, dis die kameraad wat ons in die hof wil sien, los maar eers die kleintjies laat hulle magies nog bietjie werk

Objektief ·

Moenie asem ophou tot een van die ANC grotes verskyn in die hof verskyn nie. Die hele VBS petalje het sopas weer bewys dat hulle korrrupsie goedkeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.