2 vas vir ontvoering waar bitcoin-losprys geëis is

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Die polisie in Mpumalanga het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn ontvoeringsaak verlede jaar waarin bitcoin as losprys geëis is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak was die eerste van sy soort in die provinsie en dat ʼn taakspan van verskillende polisie-eenhede onmiddellik op die been gebring is om dit te ondersoek.

Die taakspan se ondersoek het einde verlede jaar begin vrugte afwerp toe ʼn eerste verdagte in November in Germiston, Gauteng, en ʼn tweede verdagte einde Desember in Ladysmith, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem is.

Die twee verdagtes, Sithabiso Mchunu (31) en Ndumiso Sithole (30), het vroeër die week in die Middelburg-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

In Mei verlede jaar is ʼn 13-jarige seun ontvoer terwyl hy buite sy ouerhuis in Witbank gespeel het. Die ontvoerders het bitcoin as losprys vir sy vrylating geëis. Die seun is later ongedeerd gevind. Die polisie het nooit bekend gemaak of daar wel ʼn losprys vir sy vrylating betaal is nie.

In Augustus het ontvoerders probeer om ʼn 13-jarige meisie in Middelburg te ontvoer. Hulle het haar in ʼn VW Polo ingetrek, maar die meisie het om hulp geskree en ʼn groep mense wat daar naby aan die werk was, het tot haar redding gekom. Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug.

Daar is op die voertuig en die ontvoerders se besittings beslag gelê. Tydens die ondersoek na die voorval is dit vasgestel dat die verdagtes dieselfde voorneme gehad het as in die eerste geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neh ·

…ja Thinus dit laat mens dink neh!! Daar is soveel erger dinge wat aangaan in ons land, wat net onder die mat ingevee word of waarvoor R1000 betaal word dan verdwyn dit, maar soveel mense wat die rasisme kaart dag na dag speel asof hulle niks beter het om te doen nie :-(

Jepetto ·

R 1000 borg vir ontvoering BELAGLIK vandat dagga gewettig is raak almal mal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.