2 vas wat glo by onderwysdepartement steel

Argieffoto

Twee verdagtes is eindelik in hegtenis geneem ná ’n lang en uitgerekte ondersoek na beweerde bedrieglike transaksies by die Oos-Kaapse departement van onderwys. Meer as R3 miljoen is sowat tien jaar gelede by dié departement gesteel.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Dinsdag in ’n verklaring gesê Moses Justice Luthuli (56) en Owen Bruce James (41) word daarvan beskuldig dat hulle in 2010 as diensverskaffers van die departement by ʼn sindikaat betrokke geraak het wat van die departement gesteel het.

Volgens Ramovha het die betrokke sindikaat onwettiglik toegang tot die departement se finansiële afdeling se rekenaars verkry om wagwoorde en gebruikersname te bekom.

Sowat R3,1 miljoen is destyds op dié manier na verskillende bankrekeninge van die sindikaat oorgedra deur middel van 14 bedrieglike transaksies. Die geld is aanvanklik aan vier plaaslike skole betaal wat as begunstigdes gelys was.

Volgens Ramovha het ’n ondersoek deur die Valke later aan die lig gebring dat hierdie betalings nooit deur die departement goedgekeur is nie. ’n Nadere ondersoek is toe na die departement se diensverskaffers geloods aangesien hulle destyds toegang tot die departement se IT-infrastruktuur gehad het.

Luidens die verklaring is James in Februarie vanjaar in Turffontein in Johannesburg in hegtenis geneem waarna Luthuli Vrydag in Richardsbaai in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem is in verband met die bedrieglike transaksies.

James het sedertdien verskeie kere in ’n hof verskyn en sal na verwagting weer op 3 Junie in die Zwelitsha-landdroshof verskyn.

Luthuli is intussen op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hy sal weer op 23 Julie in ’n hof verskyn.

Ramovha het gesê die Valke verwag om nog inhegtenisnemings binnekort te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Met ‘n rekenaar “trail” en dit vat 10 jaar om hulle te kry? Ook maar goed hulle het rekenaars gebruik anders sou hulle sterf aan ouderdom, voordat hulle gekry is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.