2 vas wat glo jagluiperds vang

Argieffoto van ‘n jagluiperd (Foto aan Maroela Media verskaf deur Dinokeng)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het Maandag sy ontsteltenis uitgespreek nadat twee jagluiperds vroeër vandeesmaand onwettig gevang en een van dié diere gevrek het.

Douglas Wolhuter, die NDBV se bestuurder van die wildbewaringseenheid, het aan Maroela Media gesê twee verdagtes is op 3 Maart deur die polisie se honde-eenheid by Boshoek tussen Sun City en Rustenburg in die Noordwes aangekeer.

Die verdagtes was in besit van twee jagluiperds. Een van dié diere was in ʼn swak toestand en die ander een was reeds dood.

Volgens Wolhuter is die verdagtes op die plek in hegtenis geneem waarna die lewende jagluiperd in die sorg van ʼn veearts geplaas is sodat die dier behandel en gerehabiliteer kon word.

Dit is onduidelik waaraan die ander jagluiperd gevrek het, maar Wolhuter vermoed dat die dier se dood stresverwant kon wees aangesien dié wilde diere glo met die hulp van vier honde en twee perde gevang is.

Wolhuter sê die honde en perde was ten tyde van die inhegtenisneming ook in die verdagtes se besit.

Wolhuter kon nie onmiddellik bevestig waar die verdagtes die jagluiperds gevang het nie.

Hy het verduidelik dat dit ontsettend belangrik is om nie wilde diere soos jagluiperds uit hul natuurlike habitat te verwyder nie. “Jagluiperds is ʼn bedreigde spesie. Hulle het ʼn beter kans op oorlewing in die natuur. Red hierdie spesie deur hulle dáár te los,” het Wolhuter gesê.

ʼn Plaaslike polisiewoordvoerder kon nie vanoggend die voorval aan Maroela Media bevestig nie en daar word steeds gewag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries du Toit ·

Eers Renosters, toe olifante, toe Leeus, nou cheetahs. Aggenee die mens wil die hele wereld verwoes. Waar gaan ons eindig

George in Bloem ·

Daai twee ouens moet blitsvinnig wees om dit reg te kry. Dalk moet Rassie gaan praat met die manne sodra hulle uit is op borg?

GeeNieOmWatEkSeNie ·

Ons kan net op ons knee gaan en bid dat die oordeelsdag gouer kom as wat ons hoop.
Die bybel se jy mag nie kwase gevoelens koester nie maar ons is gemaak om na die dier te kyk? As die Here gevoel het skroef die diere waarom het Noag dan die opdrag gekry om 2 van elk op die ark te kry voor die groot vloed ?

Charlie ·

Ek wonder nou net. As die polisie niks van die saak af weet dan is die kwaaddoeners waarskynlik al weer op vrye voet.
Boeties of iets van die stasiebevelvoerder miskien?

Gert J ·

Hulle moet dieselfde behandeling kry wat die arme luireds moes meemaak. Kry polisie honde laat hulle hardloop en los die honde dat hulle gevang word. Maar wees stadig om die honde van hulle af te haal hulle is vuilgoed en moet swaar gestraf word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.