2 vas wat glo padskraper se diesel steel

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Twee mans is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met honderde liters diesel wat uit ’n padskraper van die departement van paaie en vervoer in die omgewing van Steynsrus in die Vrystaat gesteel is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het Woensdagmiddag inligting ontvang oor ’n rooi Isuzu-bakkie en ’n vermeende oortreder wat diesel uit ’n padskraper van die provinsiale departement van paaie en vervoer tap.

Die bakkie is sowat 5 km buite die dorp op die R76 voorgekeer en polisiebeamptes het versoek om die dieseldromme agterop die voertuig na te gaan. Sowat 830 diesel is in die dromme gevind.

Volgens Makhele het die bestuurder van die bakkie erken dat die dromme vol diesel is en aangebied om die polisiebeamptes na nóg ’n persoon en die misdaadtoneel te neem.

Die bestuurder het die polisiebeamptes na ’n munisipale terrein oorkant die veilingskrale in die dorp geneem waar hulle ’n werknemer van die departement van paaie en vervoer ondervra het. Dié het erken dat die diesel vanuit ’n padskraper van die departement getap is.

Albei mans en die rooi Isuzu-bakkie is na die polisiestasie geneem waar hulle in aanhouding geneem is vir vermoedelik gesteelde eiendom.

Die werknemer se toesighouer het intussen ’n saak van diefstal aanhangig gemaak en die mans sou na verwagting Vrydag op dié aanklagte in die landdroshof in Kroonstad verskyn.

Maroela Media het Saterdagoggend ’n navraag aan die Nasionale Vervolgingsgesag gerig rakende die verskyning en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

…het die bestuurder van die bakkie erken dat die dromme vol diesel is en aangebied om die polisiebeamptes na nóg ’n persoon en die misdaadtoneel te neem.

Geen kameraadskap tussen kroeks nie.

Vuiluil ·

Goed georganseerd. Het dit vele kere al gedoen sou ek sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.