2 volwassenes, 2 kinders sterf in botsing

Foto: ER24

ʼn Man, ʼn vrou en twee kinders is dood en ses ander mense beseer toe ʼn bussie en ʼn motor Sondagaand op die N14 buite Upington in die Noord-Kaap gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici van verskillende ambulansdienste is laat Sondagaand na die toneel ongeveer 20 km buite Upington ontbied. Daar het hulle die wrakke van die twee voertuie, wat reg van voor gebots het, aan teenoorgestelde kante van die pad aangetref.

“Paramedici het ʼn man, vrou en twee kinders in die motor aangetref. Die vrou het veelvuldige beserings opgedoen en was in ʼn ernstige toestand,” het Meiring gesê. “Die man en die twee kinders het ook verskeie beserings opgedoen en het geen teken van lewe getoon nie. Daar was niks wat vir hulle gedoen kon word nie en hulle is op die toneel dood verklaar.”

Foto: ER24

Meiring het gesê ses insittendes van die bussie is in die botsing beseer. ʼn Vrou was in ʼn kritieke toestand, terwyl vyf ander mense geringe tot matige beserings opgedoen het. Al ses beseerdes en die beseerde vrou wat in die motor was, is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

“Die vrou in die bussie wat kritieke beserings opgedoen het, het by haar aankoms by die hospitaal aan haar beserings beswyk,” het Meiring gesê.

Die oorsaak van die botsing word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oorsaak? ·

Oorsaak? Ons weet almal wat die oorsaak is van 99% van tromop botsings.
Die padreëls is eintlik heel eenvoudig. Die belangrikste is om links te hou, verby te gaan waar jy kan SIEN wat aankom, binne die spoedgrens te ry maar bowenal binne jou eie vermoë en padtoestande in ag te neem, jou humeur in toom te hou, geduld te beoefen ten alle tye, jou aandag 100% te bepaal op die pad, om te weet dat jou K53-lisensie nie genoegsaam is vir veilige bestuur maar die grootste van almal is dat dit ‘n voorreg en nie ‘n reg is om ‘n bestuurderslisensie te besit.

Noord-Kaap ·

Daar is 3 gevaarlike paaie wat uit Upington loop. Keimoes-, Groblershoop- en Olifantshoekpad. Hierdie paaie het almal draaie en bulte. As hulle nie die vragmotors en ander voertuie op blinde hoogtes verby gaan nie dan kry jy die ouens wat se voertuie nie padwaardig is nie. Dis ‘n slakke pas van 40 / 50km/h. Maak nie saak of dit dag of nag is nie.
Mense het nie die geduld. Hulle moet jaag en kanse vat om dan nie eens hul bestemming te bereik nie. Ek ry baie hierdie paaie oor ek self in die omgewing bly en elke keer is daar ‘n geval wat my nekhare rys as ek sien wat voor my oë afspeel. Ja meneer en mevrou, as jy nie lief is vir jou eie lewe nie, dink aan die ander mense en hul families.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.