2 vóór, 2 ná transitorooftogte vasgetrek

Bheki Cele. Foto: GCIS

Vier vermeende transitorowers is Maandag en Dinsdag in twee afsonderlike voorvalle onderskeidelik in die Vrystaat en Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê in die eerste voorval is twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 30 jaar oud, Maandag buite Senekal in die Vrystaat aangekeer.

“ʼn Taakspan bestaande uit die Valke, misdaadintelligensie-eenheid, taktiesereaksiespan en die polisie van Senekal het ʼn intelligensiegedrewe operasie op die N5 uitgevoer waar hulle op die verdagtes toegeslaan het. Die verdagtes, albei van Mamelodi in Pretoria, het in ʼn VW Polo Vivo gesit en wag om ʼn geldwa in ʼn hinderlaag te lei,” het Naidoo gesê.

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op die voertuig en twee ongelisensieerde pistole en ammunisie.

In die ander voorval is twee mans in hegtenis geneem nadat ʼn geldwa Maandag om 17:30 voor Ngcobo in die Oos-Kaap beroof is.

“ʼn Groep mans het op die geldwa geskiet en die voertuig het omgeslaan. Die verdagtes het springstof gebruik om toegang tot die geldbokse te kry, terwyl die veiligheidsbeamptes steeds in die voertuig was. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld in twee voertuie, waarvan hulle een op die toneel gekaap het, op die vlug geslaan.”

Die veiligheidswagte het geringe beserings tydens die rooftog opgedoen.

“ʼn Taakspan het die voorval ondersoek en dit het Dinsdag om 01:00 tot die inhegtenisneming van twee verdagtes in Alice gelei. Die polisie het ʼn groot bedrag geld teruggekry en ook beslag gelê op ʼn vuurwapen en twee gesteelde Mercedes-Benz-voertuie.”

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die onderskeie spanne geloof vir hul optrede wat tot die inhegtenisnemings gelei het.

“Ek is tevrede, veral met die misdaadintelligensie-eenheid wat die transitorooftogte identifiseer en verdagtes aankeer voordat hulle in staat is om [die rooftogte] uit te voer,” het Cele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Lekker ONS hou van sulke vinnige optrede Geluk aan almal wat gehelp HET ! ???

Karn ·

n slap on the wrist and out within 6 years. Not even murderers of 5+ people (serial killers in the sense 3+ murders) get 15 years, then out on parole within 8years. Laughable.

Willie ·

Baie boewe was nie ver nie…. sommer in die ANC hoofkwartier.. nie ver te soek nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.