2 wetstoepassers Dinsdag afsonderlik vermoor

‘n Verkeersbeampte wat glo deur ‘n taxibestuurder doodgeskiet is, se kollegas was getraumatiseerd na sy dood (Foto: NARI via Twitter)

ʼn Verkeersbeampte van Kaapstad is Dinsdagoggend in Acre-weg in Kensington in dié stad doodgeskiet, glo deur ʼn minibustaxibestuurder. Dieselfde oggend is ʼn lid van die Valke in Nelspruit deur ʼn groep mans met ʼn aanvalsgeweer doodgeskiet. Hy was op pad werk toe.

Albei beamptes was 49 jaar oud en het jare se onbaatsugtige diens aan die publiek gelewer.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê die verkeersbeampte het die taxibestuurder op die hoek van 5de Laan en Voortrekkerweg in Kensington afgetrek vir ʼn verkeersoortreding. “Die beampte het die taxibestuurder in hegtenis geneem en op pad polisiestasie toe het die taxibestuurder die beampte in sy voertuig oorrompel en hom doodgeskiet,” het Traut gesê.

Die taxibestuurder het ná die voorval gevlug.

Die Stad Kaapstad het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enigeen wat inligting het wat tot die inhegtenisneming van die skuldige kan lei.

Vier verdagtes van 20, 22, 32 en 36 jaar oud is egter etlike ure daarna in hegtenis geneem en word tans ondervra in verband met die moord op die verkeersbeampte.

Die stad het sy skok en misnoeë oor die sinnelose moord op die verkeersbeampte uitgespreek.

“Namens die stad wil ek my innige meegevoel met die familie van die beampte betuig. Ons sal hulle op enige moontlike manier probeer bystaan tydens hierdie moeilike tyd,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

In Nelspruit is lt.kol. Leroy Bruwer van die Valke dieselfde oggend doodgeskiet toe hy op pad was werk toe. Hy is omstreeks 06:30 op Lydenburg-pad buite Nelspruit in sy voertuig deur ʼn onbekende aantal gewapende mans met ʼn swaarkaliber-wapen geskiet. Hy het op die toneel gesterf.

“Bruwer se dood is ʼn groot verlies vir die polisie. Hy was baie ervare en het uitgeblink in komplekse sake, soos om renosterstropers vas te trek,” het brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het sy meegevoel met Bruwer se familie betuig en het ʼn multidissiplinêre span versoek om nie te rus voordat die moordenaars vasgetrek is nie.

Naidoo sê enigiemand met inligting oor Bruwer se moord kan die polisie by 086 00 10111 skakel.

Omstandighede rondom albei voorvalle word steeds ondersoek. Smith sê dit is kommerwekkend om te sien hoe beamptes die lewe laat bloot deur hul werk eerbaar te verrig. “Hulle plaas daagliks hul lewens in gevaar deur die gemeenskap te dien en te beskerm.” Volgens Smith gaan die stad alles in sy vermoë doen om die aanvalle op wetstoepassers te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Ja hulle doen en se wat hulle wil – Net soos die EFF en kom NIKS oor nie – ANC julle skuld – skrik wakker want dit is al amper klaar te laat, Sterkte aan die Familie vd oorledenes.

Gato ·

Vang die renoster stropers dan het julle ook die moordenaars van Lt.Kol Brewer gevang

Michael ·

Dit is wat gebeur as n land nie n bevoegde polisie mag of diens het nie,die kriminele vrees nie die polisie of die nagevolge van hulle dade nie want hulle weet die kanse om gevang te word is skraal en sou hulle gevang word is die straf nie van so aard om hulle af te skrik nie.

E ·

49 jaar oud. En hy weet nog steeds nie hoe om ‘n prisonier te Vervoer nie. Die ou moes deursoek gewees het, geboei en agter in ‘n wa gewees het. SMH.

Anel ·

Presies,E. Dis wat ek ook wou sê. Is die verdagte dan nie deursoek nie en hoe ry jy alleen met ‘n verdagte in jou motor sonder dat hy geboei was?

lollapot ·

E miskien moet jy net weer die berig lees. . .
4 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die verkeers beampte, dit is maklik om ‘n uitlating te maak en iemand in ‘n swak lig te stel, as jy nie die omstandighede ken nie.

Anel, ek hoop JY lees ook hier. . .

Knap ·

Hy het natuurlik ander misdade ook gepleeg , en word gesoek daarvoor.

Pieter J ·

Taxidrywers is omtrent almal wettig of onwettig bewapen en skroom nie om daardie wapens te gebruik nie. Om daardie rede waarsku ek voortdurend familie en vriende om nie met taxidrywers in onderonsies betrokke te raak nie ongeag wat hulle aanvang op die pad. Hulle is uiters arrogant en gevaarlik.

Nie Verbaas ·

Taxi bestuurders glo dis hulle reg om verkeersreels te oortree. Die gewone publiek moet dit blykbaar net aanvaar.

Sarel ·

Dit us hartseer en mens voel vir die families. So onnodig. Menister Cele, dan wil jy wetsgehoorsame burgers ontwapen?

Lammert ·

Dink die opskrif behoort eerder te wees. 2 wetstoepassers Dinsdag in 2 afsonderlike voorvalle vermoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.