20 al dood in KZN-vloede

Skade wat deur oorstromings in KwaZulu-Natal aangerig is. (Foto: Twitter / @tWeatherSA)

Die Suid-Afrikaanse weerdiens in Gauteng het Dinsdag op Twitter gesê dat minstens 20 mense in oorstromings en modderstortings in KwaZulu-Natal dood is, terwyl minstens twee mense vermis word.

Onder dié slagoffers is ʼn vrou en haar twee kleinkinders wie se liggame ontdek is nadat hulle deur vloedwater in Flamingo Heights in Tongaat meegesleur is. Die derde kleinkind word in dié stadium steeds vermis. Die liefdadigheidsorganisasie Gift of the Givers was Dinsdag op die toneel en het foto’s van die verwoeste gebied op sosiale media gedeel.

Maroela Media het vroeër berig dat swaar reën oor die afgelope paar dae chaos in groot dele van die provinsie veroorsaak het, waaronder Durban, KwaMashy, Umlazi, eThekwini, Molweni, KwaDukuza en Umdloti. Oorstromings het ook in Ladysmith en Pinetown voorgekom, terwyl talle paaie aan die Suidkus beskadig is.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het boonop Maandag ʼn oranje vlak 8-waarskuwing uitgereik wat nóg reënval vir Dinsdag oor die oostelike dele van die land aandui.

“Die grond is reeds deurnat en sommige dreineringstelsels is klaar vol. Wydverspreide oorstromings sal dus na verwagting vanaand [Maandag] en môre [Dinsdag] oor die suidoostelike dele van KwaZulu-Natal voortduur,” lui die waarskuwing. Dié gebiede sluit Durban, Margate, Port Shepstone en Harding in.

 

 

Die oorstromings het reeds groot skade aan infrastruktuur in die provinsie aangerig.

Videomateriaal wat deur private reddingswerkers en paramedici gedeel is, wys oorstroomde hoofweë, motors onder water en ineengestorte huise.

ʼn Foto en ʼn video van ʼn brandstoftenk wat glo op die Blue Lagoon-strand in Durban uitgespoel het, is Dinsdag deur ʼn Twitter-gebruiker op sosiale media gedeel.

Reddings- en nooddienswerkers spook ook die afgelope paar dae om inwoners na veiligheid te bring.

“Dit is ʼn absolute nagmerrie. Baie modderstortings, mense wat sterf, geboue wat ineengestort het,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van ALS Paramedics, aan die media-instansie AFP gesê. Hy voorspel dat daar waarskynlik meer sterftes sal wees.

Noodoproepe stroom in

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se spanne in Durban, Ballito, Rocky Bay en Shelley Beach is tans ontplooi om as deel van ʼn gekoördineerde, gesamentlike nooddiensreaksie bystand in noodgevalle te bied.

Die NSRI sê die organisasie is Maandag en Dinsdag met noodoproepe oorval.

“Ons gaan voort om te help met vloedverwante voorvalle waarby plaaslike burgers, huis- en plaasdiere asook wild betrokke is.

“Die NSRI en nooddiensowerhede doen ʼn beroep op lede van die publiek om veilig te bly en om geensins oorstroomde riviere en brûe te probeer oorsteek nie. Inwoners word gemaan om tuis en op hoër grondgebiede te bly,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

ER24 het Dinsdag ook verskeie wenke en noodmatreëls in die lig van die oorstromings bekendgemaak.

Russel Meiring, woordvoerder by ER24, sê mense wat in laagliggende gebiede woon, moet veral versigtig wees en gebeurlikheidsplanne instel. Mense wat in storms vasgevang word, word aangeraai om so gou moontlik skuiling te soek.

“Maak seker dat jy nie in die oopte of naby enige groot bome of hoë voorwerpe is wat ʼn groter risiko loop om deur weerlig getref te word nie.

“Onthou dat sigbaarheid tydens swaar reënbuie verlaag word, wat jou vermoë sal beïnvloed om ander voertuie en voetgangers op die pad te sien. Hou ʼn langer as normale volgafstand en maak seker dat jy jou spoed verminder. Jou voertuig moet padwaardig wees, en jou ruitveërs moet in ʼn perfekte toestand wees. As jy nie jou reis kan voortsit nie, stop by jou naaste vulstasie of bedekte gebied. Vermy dit om aan die kant van snelweë of onder brûe te stop.”

Meiring sê indien motoriste in kitsvloede vasgekeer word, moet hulle uit die voertuig en na hoër grondgedeeltes probeer vlug. “Probeer aan enigiets moontlik vasgryp om jouself na veiligheid te trek.”

Wanneer oorstromings in huise voorkom, word inwoners aangeraai om alle elektriese toestelle by die hoofkragbord af te skakel. “Onthou ook om ʼn noodhulptassie byderhand te hou en maak altyd seker dat jy die nodige noodnommers by jou het.”

  • Die NSRI se noodnommer is 112 van ʼn selfoon af. Hulle kan ook by 087 094 9774
    bereik word. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esme ·

Is hierdie nie ‘n totale ineenstorting van swak infrastrukstuur nie? Vir jare en jare was KZN gekenmerk vir swaar reen en tydens my verblyf byna 40jaar gelede in Richardsbaai het die mishoring gereeld die nagklanke oorweldig.
Ek kyk na foto’s en is verbaas oor stormwater pype, afvoerpype en ek wil glo dat swak Stadsbeplanning nie ‘n aandeel aan die chaos het nie.

SjN ·

Die foto geneem by die ou lughawe se opgaartenks toon duidelik aan dat slegs die buite baan erg oorstroom is terwyl die oorkant se watervlak baie laer is, is dit nie n kwessie van stormwater dreinerings pype wat geblok is en instandhouding en onderhoud ontbreek nie? Vra net, vorige oorstromings was dit presies dieselfde tendens by die spesifieke plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.