20 jaar van Solidariteit was ʼn visie anderkant die woestyn

bou-boekbekendstelling-05

Willie Spies gesels met dr. Dirk Hermann, Flip Buys en Melinda Janse van Rensburg oor die begindae van Solidariteit. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

ʼn Duidelike visie wat jou tot anderkant die woestyn kan neem, dít is hoe jy ʼn sukkelende unie vir mynwerkers met etlike 1 000 lede binne 20 jaar omskep in ʼn snelgroeiende sambreelorganisasie wat deesdae ʼn kultuurtuiste vir meer as 400 000 Afrikaners is.

“By ons is daar nie moedeloosheid nie maar energie, want ons glo as jy twyfel oor die toekoms, dan bou jy dit. Dit is die enigste manier hoe jy verseker van jou eie toekoms kan wees.

“Flip Buys het destyds ʼn droom aan my bemark. Hy het my met daardie droom gevang te midde van geleenthede in die korporatiewe wêreld en die akademie, maar dit is omdat Buys sy droom só duidelik gekommunikeer het,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Hermann en Buys, die voorsitter van Solidariteit Beweging, se boek,Vat jou goed en bou! Twintig jaar van Solidariteit, is Donderdagoggend tydens ʼn gesellige geleentheid by die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel.

Die boek is ʼn versameling van nagenoeg 100 van Buys en Hermann se opspraakwekkendste rubrieke wat hulle in die afgelope twee dekades geskryf het. Die meningstukke pak kwessies in die Suid-Afrikaanse politiek, vakbondwese, sport en geskiedenis aan, asook sake soos regstellende aksie en rassediskriminasie.

bou-boekbekendstelling-06

Adam Tas het die gehoor tydens die bekendstelling van die boek ‘Vat jou goed en bou!’ met van sy liedjies bekoor. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

In dié boek kry lesers ʼn blik van hoe Buys en Hermann dink, asook hoe hulle daarin geslaag het om in die 20 jaar as vakbondmanne, uitsonderlike strateë en meningsvormers te beplan en bou aan ʼn dinamiese vakbond, sowel as die snelgroeiende sambreelorganisasie wat die Solidariteit Beweging geword het.

Buys het destyds as student in die laat 80’s besef Suid-Afrika gaan onherroeplik verander en daarmee saam sal die rol van die Afrikaner ook in die land heeltemal verander. Hy het besef as die Afrikaner wil oorleef, moet daar ʼn moderne Helpmekaarbeweging gestig word.

Dit is met hierdie duidelike visie wat Solidariteit geslaag het om organisasies soos AfriForum, Helpende Hand, Sol-Tech en Akademia te vestig wat saam bou aan ʼn toekoms waar mense vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan woon en werk.

Buys het tydens die geleentheid gesê die gaping tussen ʼn goeie plan en die uitvoering daarvan is goeie mense. ʼn Organisasie kan net so vinnig groei soos die gehalte mense wat dit slaag om te betrek. “Ons organisasies se groei verseker ook dat ons aanhoudend ʼn staatsdiens kan lewer sonder die staat se inkomste,” het hy gesê.

Altesaam 100 mense is ook tydens die geleentheid vir hulle rol in die opbou en uitbou van die Afrikaanse gemeenskap vereer. Elkeen van die mense het, na gelang van hulle rol in die gemeenskap, ʼn Afrikaans- of Helpmekaar-roos ontvang. Die rooskenner Ludwig Taschner van Ludwig Rose het die rose gekweek.

  • Die boek Vat jou goed en bou! Twintig jaar van Solidariteit is by Kraal Uitgewers beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Albaster ·

Baie dankie Dirk en Flip, en almal wat julle ondersteun,, vir julle baie harde werk om die land op te bou. Julle is ware helde!

Dankbaar ·

Dankie aan elkeen by Solidariteit wat die visie in vrugbare daadkrag omskep het. Mag die seën in die voorbeeld van u geloofsmoed as ‘n blywende inspirasie en nalatenskap dien ook vir die opkomende geslag. Mag dit die hele land inspireer en besiel. Dankie vir u onvermoeide stryd om geregtigheid.

Johann Marx ·

In 1990 het FW de Klerk belowe dat as mense hom die mandaat gee deur JA te stem in sy referendum, hulle stem vir:
1. ‘n Veilige toekoms vir ons en ons kinders
2. Vreedsame naasbestaan en gelykwaardige geleenthede
3. Ordelike hervorming en redelikheid
4. Die beskerming van groepsbelang deur eie besluitneming
5. Die bevordering van gemeenskaplike belange deur samewerking
6. Sterk en doelgerigte leierskap
7. ‘n Eendragtige en weerbare Suid Afrika
8. Ekonomies, politieke en maatskaplike stabiliteit
9. Die handhawing van ordelike regering en standaarde
10. Veiligheid, Vryheid en Voorspoed deur geregtigheid.

En nou moet Solidariteit en hulle lede ELKE DAG hiervoor baklei? Daar is net een woord hiervoor: TRAGIES.

Marisha ·

Geagte meneer Johann Marx. Hulle, nee wag, ons baklei nie.
Ons bou! Bou jy saam?

Dit is ‘n groot voorreg om deel te wees van ‘n bousteen aan my en jou toekoms.
Dankie vir die oggend! Dit was pragtig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.