20-jarige ‘sonskynkind’ skielik dood: ‘Net God bring troos’

Jo Hoogenboezem (Foto: Facebook)

ʼn Gesin van Tolwe is in rou gedompel nadat hulle 20-jarige seun verlede week skielik aan malaria oorlede is.

Eldi Hoogenboezem het aan Maroela Media vertel sy is stukkend ná Jo, haar seun, se afsterwe, maar sy vind haar troos in die genade van die Here.

Jo, ʼn teologiestudent van Middelburg in Mpumalanga, het oor ʼn paar naweke gelede vir sy ouers gaan kuier toe hy vermoedelik malaria gekry het.

Hoogenboezem sê omdat daar dié einste naweek baie familie op die plaas was, moes hy en ʼn ander lid van die familie in die gaste-eenheid op die plaas slaap.

“Hulle het die volgende dag gesê die muskiete het hulle behoorlik beetgekry, maar ons het glad nie gedink hulle kon malariadraers wees nie. Tolwe was nog nooit ʼn rooigebied nie.”

Jac, die familievriend wat saam met Jo in die gaste-eenheid op die plaas oornag het, het reeds die week daarna al die simptome van malaria getoon en is in die hospitaal opgeneem.

Jo het die simptome eers drie dae later ervaar, en hy is toe eindelik drie dae ná Jac in die hospitaal opgeneem.

“Hy was twee dae in die hoësorgeenheid voor hy oorgeplaas is na die gewone saal toe. Ek het vir hom gaan kuier en vir die dokter gevra hoekom hy op suurstof is, maar daar was nie rede vir kommer nie. Hy het daardie aand weer baie siek geword, en ek het die gevreesde oproep 04:20 die oggend gekry. Hy is oorlede – die dokters kon niks vir hom doen nie.”

Jo saam met kinders van die kerk (Foto: Verskaf)

Hoogenboezem sê die gesin, haar man en hul ander twee seuns, is in stukke. “Ek moes vir twee dae reëlings om sy dood tref, maar het toe ek na twee dae tuis kom, vir vier ure aanmekaar getreur. In ʼn stadium het ons huishulp na my toe gekom en ʼn papiertjie in my hand gedruk met ʼn vers uit Job 14: ‘U het besluit oor die lengte van ons lewe. U bepaal hoeveel maande ons sal leef, en nie ’n minuut langer nie.’ Dit is hierin wat ek troos gekry het. Ek wonder nie meer of ek iets anders kon gedoen het nie; ek weet dit was sy tyd gewees, hy is huis toe geroep.

“Toe ek die bokse met sy goed moes uitpak, het ek van voor af gebreek. Maar ek weet ten spyte daarvan dat ek leeg en stukkend voel, rus hy by die voete van die Here. Daar is ʼn ander vers, Psalm 116:5: ‘Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.’ God sorg, Hy vertroos en omvou ons – ons is dankbaar hy is by die Here.”

Sy sê Jo is iemand wat talle lewens aangeraak en verander het. Hy was veral betrokke by die kerk deur wie hy studeer het.

Jo en sy hond Stefan tydens sy diensjaar as jeugwerker by HTS Middelburg 2015 tot 2016 (Foto: Verskaf)

Sy wil ook dié seer gebruik om ander ouers te waarsku. “Dit is só belangrik om jouself in te lig en te gaan lees daaroor. En waarsku ander ook daaroor. As ’n mens weet hoe dit regtig werk, kan jy moontlik meer ingeligte besluite maak.”

Volgens die departement van openbare gesondheid en oordraagbare siektes het sowat 20 mense die afgelope vyf maande weens malaria gesterf.

Dr. Chike Asomugha, ʼn adviseur vir die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê in Gauteng alleen is daar in 2017 reeds nagenoeg 950 gevalle van malaria aangemeld. In Mpumalanga was daar sowat 585 malariagevalle.

Asomugha sê dié statistiek is ʼn bewys dat mense meer verantwoordelik moet optree wanneer hulle reis. “Die siekte word dikwels oorgedra deur mense wat reis, veral na gebiede soos die Kruger Nasionale Park, Limpopo, Zimbabwe, Pakistan en Nigerië. Dit is belangrik dat mense malariamedikasie om te verhoed dat hulle die siekte opdoen.”

Nios het in ʼn verklaring gesê malaria is steeds ʼn gevaar in Limpopo, hoofsaaklik in die Mopani en Vhembe-distrikte, met ʼn toename in gevalle in aangrensende gebiede in die noordelike Krugerwildtuin.

Jo op die plaas op Tolwe (Foto: Verskaf)

Nios sê egter die gevalle van malaria het in Mei begin afneem.

“Talle hospitale en klinieke in die kwesbaarste gebiede het aflewerings van die Coartem-medikasie vir mondelinge behandeling ontvang en vinnige diagnostiese toetse word beskikbaar gestel in gebiede met die grootste behoefte,” lui die verklaring.

Die simptome van malaria

Jy sal nie erger jeuk wanneer jy deur ʼn malariadraende muskiet gebyt word as wanneer ʼn muskiet jou byt wat nie ʼn draer is nie. Simptome is soortgelyk aan ʼn verkoue, en sluit onder meer in koors, kouekoors, hoofpyn en naarheid. Die siekte kom veral voor by die Kruger Nasionale Park, in Limpopo en Zimbabwe. Indien jy egter nié in ʼn rooigebied was nie en simptome ervaar, moet jy so vinnig as moontlik dokter toe gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JoeV ·

Dit moes ‘n groot skok en harteer wees.

Daar is geen teenmiddel vir malaria bekent nie? Waarna verwys die dokter?

Janettafcoetzee ·

Ons dogter is ook oorlede aan Malaria. In Mosambiek opgedoen, oorlede in Unken Duitsland. Desember 2015. Tropiese siektes is nie so bekend daar nie en medikasie nie geredelik beskikbaar nie.
Ek weet hoe jul voel. My innige meegevoel. Sterkte.

Judy ·

Vriende van ons se Moeder is ook oorlede verlede week bitter skielik aan Malaria, dit is so hartseer.

Elize ·

So hartseer.Innige meegevoel. My seun het ook Malaria gekry.Maar as ‘n mens hou by ‘n Dr.uitkom en medikasie kry is Ok. Maar kom dan jaarliks weer.Die koors van Malaria is baie erg.

Annette Stander ·

Dit is so hartseer. My hart gaan uit na Jo se gesin

Marina ·

My man en dogter het verlede jaar beide Malaria gekry nadat ons in Mosambiek was. Beide is begin op Coartem onmiddelik nadat die simptome begin het. Ek het die pille in Mosambiek gekoop en saamgebring SA toe net vir ingeval. Dit het hulle lewe gered. Een van die mees belangrikste simptome is ‘n Ontsettende MOEGHEID. My dogter het nooit enige koors gehad nie, so dit is nie altyd teenwoordig nie. Dit begin met griep simptome. Hulle is baie pap en Baie Moeg !!!

mike de beer ·

Familie Hoogenboezem. Alle sterkte. Diepste simpatie.

JR ·

Ons het seun op 20 verloor verlede jaar. Ongeluk. Stuk van jou menswees is in oogwink weggeruk. My hart gaan uit na familie. Ek sit jul in my gebede in God se vertroostende arms.

Magaretha van heerden ·

Kan my nie die hartseer indink nie. Enigste troos is dat hy n kind van God was en nou by die Here is. Ons sal bid dat die Here die familie sal vertroos.

Jean ·

Sterkte met al julle mense se verlies…mag die Here jul dra..
Dit wil voorkom of malaria al hoe meer begin opduik in areas waar dit voorheen uitgewis was of self nie voorkom nie,hoekom? Wat doen die regering of eerder gese wat doen die regering nie om dit te probeer hokslaan???Dit wil voorkom soos alles verval in Suid Afrika terug na die oertye gaan ou probleme soos die al meer gesien word! Het jare en jare terug so klomp skielikke gevalle gesien van malaria in Suid Afrika !
Ek wonder is dit die begin van die terugkeer van die verskriklikke siekte op groot skaal?

cs ·

Dis verskriklik erg -My hart baie seer – Aan die Hoogenboezom familie baie sterkte en n al die families bo wat iemand verloor het baie sterkte, ek was nog nie in die sistuasie maar ek huil sonot en trane saam met julle-

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.