20 mense sterf in KZN-storms

‘n Informele nedersetting lê platgeslaan na die week se storms in KwaZulu-Natal. (Foto: ANA)Soveel as 20 mense het die afgelope maand in KwaZulu-Natal omgekom in omstandighede wat verband hou met weerstoestande in die streek, en 42 mense is beseer. Vyf mense is die afgelope week dood toe ʼn tornado, swaar reën, weerlig en stormwind die provinsie getref het.

“Twee mense is in Durban dood toe hul huis op hulle ineengestort het,” sê Senzelwe Mzila, die woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie.

Hy sê dat die departement reeds ondersteuningspakkette uitgereik het aan mense wat deur die storms geraak is en dat talle departemente ook reeds ingegryp het. “Ons verskaf basiese geriewe en skuiling en help ook mense wat belangrike dokumente in oorstromings en sterk wind verloor het.”

Mzile sê Sipho Hlomuka, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, is ook tans besig om gebeurlikheidsplanne uiteen te sit sodat die provinsie op ’n hoë gereedheidsgrondslag is vir enige situasies wat uit gure weer kan spruit.

Die weerdiens het intussen ook gewaarsku dat daar voortgesette gure weersomstandighede die naweek verwag kan word. Die diens het ʼn waarskuwing uitgereik vir swaar reën en sterk wind wat plek-plek tot oorstromings, modderstortings en haelstorms asook verminderde sig oor die hele provinsie kan lei.

Met die uitsondering van matrieks wat besig is met hul eindeksamen en gr. 11-leerders wat besig is met hul algemene eksamen, het die hoof van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement alle ander klasse vir Vrydag weens die slegte weerstoestande opgeskort.

Intussen het Sihle Zikalala, die provinsie se premier, mense ook aangeraai om gereed te maak vir verdere swaar weer en dat hulle die aanbevelings van nooddiensspanne en rampbestuurspanne moet gehoorsaam.

“Ons rampbestuurspanne is in al 11 distrikte ontplooi om mense te help en die omvang van skade vas te stel. Daar sal waarskynlik meer reën in hierdie tyd val as in April vanjaar, tydens die Paas-vakansie,” het hy in ʼn verklaring gesê. Toe is 165 mm reën gemeet en 85 mense is dood.

‘n Tweede tornado het KwaZulu-Natal Donderdag getref. (Foto: Storm Report SA/Twitter)

ʼn Provinsiale gesamentlike operasie is ook in Durban van stapel gestuur om dienste te koördineer vir enige krisisse wat kan ontwikkel. As deel van die provinsie se reddingspogings is munisipaliteite  opdrag gegee om gemeenskappe te verwyder in vloedlynareas en ook in areas waar modderstortings kan voorkom.

Kerke is ook versoek om hul deure vir haweloses oop te maak.

Intussen monitor die provinsiale departement van vervoer alle paaie in die provinsie om verdere sterftes te voorkom.

Die niewinsgewende organisasie Gift of the Givers het ook ingegryp in die New Hanover-streek, waar ʼn tornado Dinsdagmiddag verwoesting gesaai het. Die organisasie, tesame met die plaaslike munisipaliteit, werk tans om komberse, tente, warm etes, matrasse en dakmateriaal uit te deel.

Verder word daar ook kospakkies, skryfbehoeftes en pakkies met higiëniese ware uitgedeel.

Imtiaz Sooliman, voorsitter van Gift of the Givers, sê dat mense hul dankbaarheid betoon het vir die hulp. “Ons is geskok oor hoe erg die skade werklik is.”

Baie huise is tot op die grond verwoes, ’n kerk het sy dak verloor en talle klaskamers by skole in die omgewing is beskadig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.