20 miljoen blikkies van dié groente onttrek

Van die geraakte produkte sluit in KOO se gemengde groente in verskillende souse. (Foto: KOO/Facebook)

Tiger Brands het Maandag aangekondig dat hy 20 miljoen blikkies van sy handelsmerke KOO en Hugo’s se ingelegde groente van winkelrakke moet verwyder.

Dít nadat daar fout gegaan het met die blikproses van ’n klein hoeveelheid van die blikkies groente wat tussen 1 Mei 2019 en 5 Mei 2021 vervaardig is. Daar is glo moontlik fout met die blikkies se synaat, wat beteken dat die inhoud van die blikkies moontlik kan uitlek.

Die foutiewe blikkies is verskaf deur ’n verpakkingsverskaffer wat deur sy interne kwaliteitsversekeringsprosesse bewus geword het van die probleem met die blikkies.

Tiger Brands word nou genoop om minstens 24 van Koo en sommige van Hugo’s se ingelegde produkte aan die mark te onttrek. Dit sluit produkte soos gebakte bone in verskillende souse sowel as geroomde mielies en gemengde groente in verskillende souse in.

Luidens berigte verteenwoordig die geraakte produkte sowat 9% van Tiger Brands se jaarlikse produksie. Die onttrekking gaan die kosvervaardiger duur te staan kom – tussen R500 miljoen en R650 miljoen.

Tiger Brands het daarop gewys dat geen gesondheidskwessies tot dusver aangemeld is wat verband hou met die geraakte produkte nie, maar dat dit weens die maatskappy se versekering van gehalte en veiligheid onttrek moet word.

“Die maatskappy het in oorleg met die Nasionale Verbruikerskommissie besluit om voorkomend op te tree en die produkte in die beste belang van die verbruiker te onttrek.

Die maatskappy sê voorts klante wat reeds van dié produkte gekoop het, kan die produkte terugneem na hul naaste supermark en ’n terugbetaling daarvoor ontvang. Die datum van vervaardiging is bo- of onderaan die blikke gedruk.

Sien die volledige lys van onttrekte produkte hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

daarsdit ·

As mens die volledige lys van produkte kyk, is die datums 1 Mei 2019 – 5 Mei 2021.
In die berig is dit 1 Mei 2021 – 5 Mei 2021.
Watter een is korrek?

Ellie ·

Ek sal se dis van 2019-2021. Waar gaan jy vir 5 dae se probleemblikkies tussen R500 en R650 miljoen moet betaal. Maak sin dat dit van 2019 is.

Baardman ·

Tiger Brands gaan niks verloor nie, die verbruiker gaan maar net duurder betaal vir die nuwe produkte.

Janice du Plessis ·

Dagsê Sylvia
Baie dankie vir jou kommentaar. Die artikel is gewysig om enige verdere verwarring te voorkom.
Dankie! Groetnis
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.