20 sterf in ongeluk: Begrafnisreëlings bekend

Die ongelukstoneel op die R25 buite Bronkhorstspruit waartydens 20 persone, insluitend 18 skoliere gesterf het (21 April 2017) Foto: ER24

Die oorledenes van die tragiese ongeluk 21 April op die R25-pad buite Bronkhorstspruit word onderskeidelik Saterdag en Sondag begrawe.

Altesaam 20 mense, onder wie 18 skoolkinders, is in dié ongeluk dood.

ʼn Minibus het teen ʼn vragmotor gebots en aan die brand geslaan. Die leerders was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga.

Slegs een mens kon ná die ongeluk uitgeken word en daar moes DNS-toetse op die ander leerders gedoen word om hul identiteit vas te stel. Sewe leerders het die ongeluk oorleef. Drie van hulle is steeds in die hospitaal.

Volgens die departement van onderwys is die identifiseringsproses Maandag afgehandel deur forensiese deskundiges. Die begrafnisreëlingskomitee word gelei deur Pat Ngomane, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, en Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Hulle het met familielede van die oorledenes gesels.

Altesaam 16 leerders en die assistent wat in die taxi was, sal Saterdag in Wolvenkop en Verena begrawe word en twee leerders sal Sondag in KwaZulu-Natal en Limpopo onderskeidelik begrawe word.

Dié begrafnisse volg ná die begrafnis van die taxibestuurder, Amos Mnguni (76), verlede Saterdag in Wolvenkop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.