20 sterf in ongeluk: DNS-proses afgehandel

Die ongelukstoneel op die R25 buite Bronkhorstspruit waartydens 20 persone, insluitend 18 skoliere gesterf het (21 April 2017) Foto: ER24

Die DNS-toetse om die liggame uit te ken ná twee volwassenes en 18 skoolkinders in ʼn ongeluk buite Bronkhorstspruit gesterf het, is afgehandel.

Die skoliere, ʼn assistent en die bestuurder van die minibus waarin hulle gery het, is op 21 April op die R25 dood toe hulle met ʼn vragmotor gebots het.

“Die naasbestaandes kan nou hul geliefdes ter ruste lê,” het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga gesê.

Slegs een mens kon ná die ongeluk uitgeken word en daar moes DNS-toetse op die ander leerders gedoen word om hul identiteit vas te stel. Sewe leerders het die ongeluk oorleef. Drie van hulle is steeds in die hospitaal.

Die leerders was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga.

“Die polisie in Mpumalanga werk saam met die departement van vervoer en departement van gesondheid, die Nasionale Vervolgingsgesag, en die departement van onderwys in Mpumalanga en Gauteng aan die ondersoek,” het Hlathi gesê. “Ooggetuies en die betrokke partye word tans ondervra om te bepaal wat op daardie tragiese dag plaasgevind het.”

Maroela Media het vroeër berig die oorledenes word onderskeidelik Saterdag en Sondag begrawe. Altesaam 16 leerders en die assistent wat in die taxi was, sal Saterdag in Wolvenkop en Verena begrawe word en twee leerders sal Sondag in KwaZulu-Natal en Limpopo onderskeidelik begrawe word. Dié begrafnisse volg ná die begrafnis van die taxibestuurder, Amos Mnguni (76), verlede Saterdag in Wolvenkop.

Lees alle vorige berigte oor die Bronkhorstspruit-minibusongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liza ·

Snaaks hoe vinnig die DNS toetse se uitslae bekom is in hierdie geval, maar ‘n die arme man van Middelburg wie se vrou ook in ‘n motorongeluk doodgebrand het moet ongeveer 2 maande wag voordat hy haar kon begrawe omdat die DNS toetse nie afgehandel kon word nie???? Wonder maar net….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.