20 sterf in ongeluk: Geen kwade gevoelens jeens minibusbestuurder

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, tydens Amos Mnguni se begrafnisdiens. Foto: Balise Mabona/ANA

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Saterdag die publiek versoek om nie enige kwade gevoelens teen die familie van Amos Mnguni (76) te koester nie ná ʼn ongeluk waartydens Mnguni, 18 skoliere en nog ʼn volwassene gesterf het nie.

Die ongeluk het op 21 April op die R25 buite Bronkhorstspruit plaasgevind. Mnguni se minibus het teen ʼn vragmotor gebots en die minibus het aan die brand geslaan. Die leerlinge was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga. Sewe skoliere het die ongeluk oorleef.

Lesufi het ʼn toespraak gelewer tydens Mnguni se begrafnisdiens in Wolvenkop. “As ʼn regering is ons nie hier om te kies wie is skuldig en wie is onskuldig nie,” het hy gesê. “Ons is hier om almal te ondersteun. Ons het ʼn doelbewuste besluit geneem om bystand te lewer aan elke familie. Ons sal nie teen enigiemand diskrimineer nie. As hierdie familie berading nodig het, sal ons dit vir hulle gee. As hulle water nodig het, sal ons dit vir hulle gee.”

Lesufi het gesê DNS-toetse duur voort om die liggame uit te ken en bygevoeg die persone kan dalk volgende week begrawe word, indien die reëlings volgens plan verloop. Die ongeluk het dit ook aan die lig gebring dat die regering wette in plek moet stel om oorgrens-skoliervervoerstelsels te reguleer sodat leerlinge, wat skool bywoon in ander provinsies, op verskillende maniere bygestaan moet word.

Hy het die betrokke families bedank vir hul geduld tydens die uitgerekte proses van DNS-toetse. “Die dag waarop die ongeluk plaasgevind het, sal elke jaar by die betrokke skole herdenk word,” het hy gesê.

Verskeie persone het tydens Mnguni se begrafnis gepraat en hom beskryf as “ʼn goeie persoon wat graag ander gehelp het”. Sy familie het gehuil terwyl hulle na die sprekers geluister het.

Pat Ngomane, LUR van gemeenskapsveiligheid het gesê dit is van geen nut om vingers te wys nie. Mnguni was ʼn tradisionele geneesheer, maar net soos enigiemand anders, het hy nie geweet wanneer hy sal sterf nie, aangesien slegs God dié dag weet. “Kom ons werk saam en hou op om vinger te wys. Laat ons in God glo,” het hy gesê.

Ngomane het gesê die regering neem kennis van die publiek se opmerkings oor die toestand van die pad waar die ongeluk plaasgevind het, en die kwessie sal binnekort aangeroer word.

Sphiwe Sibanyoni, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxivereniging (Santaco) in Mpumalanga, het gesê die raad het bevind dat Mnguni se minibus geldige permitte gehad het om leerlinge te vervoer. Hy het gesê Santaco bly toegewyd om taxibestuurders op te lei wat “goeie bestuurdersgedrag” betref.

Paulos Mnguni, Amos se broer, het die regering en almal bedank wat die families bystaan van diegene wat in die ongeluk omgekom het.

Amos word oorleef deur sy ma, dogter, twee susters, agt kleinkinders en een agterkleinkind.

Lees alle vorige berigte oor die Bronkhorstspruit-minibusongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Staan die mense in Coligny ook by wie se huise en besighede verwoes is, tot op die grond afgebrand is. Al wat hulle aan die verlede oor het, is net herinneringe.

Andy ·

Daar is blykbaar “te min” skole in Gauteng, maar kinders word met busse van ander provinsies af aangery? Soos gewoonlik werk die regering weer met ‘n plan. Afrikaanse skole gaan soos in die verlede weer eerste geteiken word om busse vol kinders van ander provinsies te huisves.

Anne ·

Ek Lees met hartseer almal se kommentare oor die kinders en die 2 volwasse mense wat gesterf het in die ongeluk. Huishoudings wat *nooit* weer dieselfde gaan wees nie. Ñ verlange na my kind pa of oupa wat ek nooit weer gaan sien nie. En die mense ver politiseer alweer ALLES. Jammer oor jul verlies. Dit moet vreeslik wees.

lynni ·

Ek stem saam met Anne. Hoekom politiek betrek. Dit is vreeslik om geliefde te verloor. Sterkte aan ouers.

Linda ·

76 en bestuur nog ‘n bussie vol kinders (26 in ‘n bussie met 22 sitplekke). Ongehoord!!!!!!!

Ben Prinsloo ·

Anne en Lynni die ongeluk was reeds verpolitisieer toe die verskeie ministers en die anc betrokker geraak het. Weereens het die ongeluk ons net weer gewys van die roekeloosheid van die taxibestuurders op ons paaie en julle 2 sal maar aan julself antwoord of die wetstoepassing op die paaie voldoende is al dan nie. Onthou net dat die antwoord sal gekoppel word aan die regering van die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.