20 sterf in ongeluk: Oorlewende praat oor padveiligheid

Lindokuhle Khumalo, een van die oorlewendes, gesels met African News Agency by KwaMhlanga-hospitaal. Haar suster Nonhlanhla Khumalo is by haar. Foto: Balise Mabona/ANA

ʼn 14-jarige skolier wat Vrydag ʼn ongeluk oorleef het waartydens 20 persone gesterf het, het Saterdag ʼn beroep op motoriste gedoen om veilig te ry om padsterftes te verhoed.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk het op die R25 naby Bronkhorstspruit gebeur toe ʼn minibus en ʼn vragmotor gebots het. Altesaam 19 skoliere en die minibusbestuurder is oorlede.

Lindokuhle Khumalo (14) en ses ander leerlinge wat die ongeluk oorleef het, is na verskeie hospitale geneem.

Lindokuhle het met African News Agency (ANA) gesels vanuit die KwaMhlanga-hospitaal in Mpumalanga waar sy aansterk. Sy het gesê sy onthou nie enigiets van die ongeluk nie, en het selfs haar sussie, Nonhlanhla Khumalo (20) gevra waarom sy in die hospitaal is.

Nonhlanhla het vir haar verduidelik sy is beseer tydens ʼn ongeluk op pad huis toe van die skool af. Lindokuhle het begin huil en herhaaldelik gevra waar haar vriendin, Mimi Mathibela is.

Mense wag by die ingang van die KwaMhlanga-hospitaal in Mpumalanga om van die oorlewendes te besoek ná die minibusongeluk wat Vrydag, 21 April, 20 lewens geëis het Foto: Balise Mabona/ANA

Die minibus het aan die brand geslaan nadat dit die vragmotor getref het en van die insittendes het verkool. Daar is egter geen sigbare brandwonde op Lindokuhle se liggaam nie. Sy het ʼn nekstut aan en het slegs drie skraapplekke op haar gesig en twee op haar rug.

Lindokuhle, van Verena naby KwaMhlanga, het aan ANA gesê sy onthou dat ʼn onbekende pastoor Vrydagoggend vir hulle by Mahlenga Secondary School in Sokhulumi naby Bronkhorstspruit vir hulle gebid het. Sy onthou ook dat sy met ʼn maatjie, Melusi, gesels het toe hulle op die agterste sitplek in die minibus gery het.

“Ek weet nie wat daarna gebeur het nie. Bestuurders moet veilig ry op die paaie. Ek wil teruggaan skool toe. Ek wil skool klaarmaak en een dag ʼn prokureur word,” het die graad 9-leerling verduidelik.

Sy het gesê sy het vantevore nog nooit ongemaklik gevoel nie en was ook nog nooit bang om in die betrokke minibus te ry nie.

Nonhlanhla het gesê sy is dankbaar dat Lindokuhle oorleef het, maar sy voel baie jammer vir almal wat in die ongeluk was of enigiemand wat daardeur geraak word. “Lindokuhle is ʼn slim, ambisieuse leerling en sy het al verskeie toekennings vir uitnemendheid ontvang by die skool. Die ongeluk was vir ons ʼn groot skok. Ons was nog nooit bekommerd oor Lindokuhle se veiligheid wanneer sy met daardie taxi skool toe gery het nie,” het sy bygevoeg.

Ander persone het hul verligting uitgespreek dat hul kinders en geliefdes oorleef het, nadat hulle besoek afgelê het by KwaMhlanga-hospitaal. “Ek het sopas my sussie se seun besoek. Hy is ernstig beseer, maar ek glo hy sal vinnig herstel,” het Mamsy Mthombeni, ook van Verena, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Justice ·

Ek kan maar net bid en vertrou dat almal bewusteloos was toe die taxi aan die brand geslaan het.

Asjas ·

Is dit net ek of wil dit voorkom as of niemand die ware feite noem nie? Wat se die ander oorlewendes, of het almal skielik vergeet wat gebeur het? Wat se die trok drywer, oog getuies? Nou wil die regering ‘n kommissie aanstel om die obvious the ondersoek. His mors ons alweer baie geld.

Cherokee ·

Passasiers hou nie altyd die pad dop nie… eintlik gewoonlik nie. Veral in ‘n bustipe voertuig wat miskien hoë sitplekke het en wat agter sit. Hulle sit en gesels en vertrou die bestuurder. So, dit is nie noodwendig dat ander oorlewendes sal kan sê wat gebeur het nie. En indien daar getuies is, sal daar miskien soveel weergawes wees as getuies.

Jd ·

20 dood en oorlewendes, hoeveel kinders was in die bussie. Die oog getuies gisteraand het gese die bussie het voor die trok ingedraai

Noelene ·

21 dood plus 6 beseerdes=27 Dit klink n bietjie baie vir n minibus taxi,sou ek dink.Of is my sommetjies verkeerd?

ANRE ·

Dis baie tragies. Maar ek wil ook weet hoe kan daar so baie kinders in ‘n bussie pas? Was dit ‘n klein bus of ‘n minibus taxi? Daar is ‘n baie groot verskil en as dit wel ‘n taxi was moet hulle dringend ondersoek instel en die taxi vereenigings vasvat. Die een man het al 3 sy kinders verloor. Al 3. Dis onbeskryflik verkriklik…net omdat ‘n taxi ‘n vinnige extra paar rand wil maak maak deur te oorlaai?! :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.