Minstens 20 mense is in hegtenis geneem tydens ʼn gewelddadige betoging in Itsoseng naby Lichtenburg in Noordwes. Dié protesoptrede het al verlede week begin.
Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die eerste betogings het Woensdag begin en gewelddadig geraak toe ses winkels in die nedersetting geplunder is. Vrydag en Saterdag het inwoners die gewelddadige betogings voortgesit.
“Elf mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld en nege vir die besit van gesteelde goedere,” het Mokgwabone gesê. Dit is nog nie duidelik of nóg betogers sedert gisteraand in hegtenis geneem is nie.
Volgens Mokgwabone is die inwoners skynbaar ongelukkig oor ʼn tekort aan water in die gebied. Die situasie was teen Sondagmiddag kalm, maar die polisie bly in die gebied om dit te monitor.
Al die verdagtes, tussen die ouderdomme van 18 en 64 jaar, sal vandag in die Itsoseng-landdroshof verskyn.
Daar is ‘n tekort aan water reg oor die land, maar julle onopgevoede mense wil betoog, plunder, seer maak en beskadig. Vra die mense waarvoor julle gestem het vir oplossings. Hou op om ander se basiese mense regte te versteur deur soos kinders aan te gaan en ‘tantrums’ te gooi elke keer wanneer iets nie jou pad gaan nie…
Vreemd hoe betogings glad nie meer in ander uitgewers weergegee word nie? Het SA dit dalk ook as die norm aanvaar of is die uitgewers gekaap?