200 in Jhb vir dronkbestuur vasgetrek

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Tot 200 voertuigbestuurders is dié Paasnaweek al op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem en klopjagte is op agt nagklubs uitgevoer, het die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) Maandag gesê.

“Ses van hierdie klubs is boetes van tussen R500 en R1 500 opgelê omdat hulle nie aan noodveiligheidsbywette voldoen het nie,” het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, gesê.

“Daar is beslag gelê op ʼn sak met dagga en nyaope en ʼn 20-jarige man is op aanklag van dwelmbesit in hegtenis geneem.” Nyaope, ook bekend as Whoonga, is ʼn Suid-Afrikaanse straatdwelm wat hoogs verslawend is. Dit is ʼn fyn wit poeier wat dikwels met dagga gemeng en gerook word.

Minnaar het gesê een van die nagklubs is weens veiligheidsredes heeltemal toegemaak. “Lede van die provinsiale nooddienste en die Drankraad was deel van die operasie.”

Hy het oortreders gemaan dat metropolisiebeamptes steeds vir die res van die naweek ontplooi is en dat nog inhegtenisnemings verwag kan word. Beamptes is onder meer ook op paaie en snelweë in die provinsie ontplooi waar verkeer na verwagting vandag druk sal wees.

Volgens Minnaar kan motoriste ʼn boete van R1 000 opgelê word indien daar oor ʼn sperstreep gery of ander voertuie op ʼn gevaarlike wyse verbygesteek word.

Spoedvrate sal boetes van tussen R250 en R1 500 opgelê word. Bestuurders wat betrap word dat hulle die spoedperk met meer as 40 km/h oorskry, sal op die plek in hegtenis geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerrit ·

Kan julle dink as die ouens elke dag so werk en nie net vir een naweek in n skrikel jaar nie wat die uitwerking op misdaad sal wees.

CHRISTA ·

Ek stem saam!! Hier by ons in Ekurhuleni is die ekskuus altyd: Ons het nie genoeg Metro Polisie nie! Ek wonder waar grawe hulle skielik die Metro Polisie op sodra dit langnaweek of die begin of einde van skoolvakansie is!! Dan kry jy hulle om elke hoek en draai!!!

Zelda ·

Dit geld sekerlik NIE vir taxis NIE. As mens kyk na hoe taxis ry . Sommer in noodbaan en hoe hulle wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.