200 kinders uit tehuise verwyder

Argieffoto (Foto: Efraimstochter/Pixabay)

Die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS) oorweeg regstappe ná die departement van maatskaplike ontwikkeling 200 kinders uit drie CSS-kinderhuise verwyder het.

CSS het gesê die departement het die kinders onverwags verwyder en nie enige redes verskaf vir dié drastiese maatreël nie.

“Beamptes van die departement van maatskaplike ontwikkeling het Vrydag en Saterdag by Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en House Meah opgedaag en die kinders, van babas tot 18 jaar oud, uit die kinderhuise verwyder,” het ds. Gerhard Botha, uitvoerende hoof van CSS in KwaZulu-Natal, in ʼn verklaring gesê.

Botha is nie seker waarheen die kinders geneem is nie.

“Skriftelike en mondelingse besware van CSS se prokureurs en verskeie versoeke om eers die saak te bespreek, is geïgnoreer.”

Volgens Botha het die departement glad nie met die bestuur van die CSS of enige van die drie kinderhuise oor die saak gekommunikeer nie. “Ons is glad nie in kennis gestel van enige beweerde probleme of die besluit om die kinders te verwyder nie. Nie een van die kinders se ouers of hul voogde is in kennis gestel dat die kinders geskuif gaan word of selfs waarheen hulle geskuif gaan word nie.”

Botha sê daar is gerugte dat die departement anonieme klagtes oor die kinderhuise ontvang het. “Ons is egter nie seker nie, omdat die departement tot dusver geweier het om die saak met CSS te bespreek. As daar enige klagtes is, is ons bereidwillig om ons volle samewerking te gee tydens ʼn deeglike ondersoek saam met die departement en enige probleme reg te stel in opdrag van die departement. Is dit regtig nodig om 200 weerlose kinders op só manier te traumatiseer?”

Hy het bygevoeg van die kinders is weggeneem sonder hul medikasie.

Volgens hom sou ʼn alternatief gewees het om eerder die personeel te verwyder en hulle te vervang met personeellede van die departement; of dat die departement alle bedrywighede by die drie huise kon oorsien totdat die saak bespreek kon word en nodige stappe gedoen kon word. “Die departement het hierdie voorstelle eenvoudig geïgnoreer. Al wat ons vir ons kinders wil hê, is dat hulle terug moet wees by die huis waar hulle veilig voel en versorg word. Die beste belang van ons kinders is altyd ons eerste prioriteit en enige klagtes sal dus altyd deeglik ondersoek word. Ons bied steeds ons volledige samewerking aan die departement, en sal enige nodige regstellende maatreëls toepas, maar ons is ongelukkig nie die kans gebied om dit te doen nie.”

Die CSS sal Maandag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg indien om die kinders onmiddellik te laat terugkeer huis toe hangende verdere ondersoek.

Die Demokratiese Alliansie het intussen Weziwe Thusi, LUR van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal versoek om “dringend in te gryp om ʼn Esidimeni-katastrofe in KwaZulu-Natal te voorkom”.

Alf Lees, DA-LP, het gesê die departement van maatskaplike ontwikkeling het met gewapende polisiebeamptes by die drie kinderhuise opgedaag. “Die kinders is na dorpe oor die provinsie heen geneem, insluitend Richardsbaai, Margate, Port Shepstone, Newcastle en Victory Haven in Ladysmith. Die beamptes het nie enige kos vir die kinders gehad nie en die ouers is nie in kennis gestel nie.”

Lees het gesê van die kinders het weggehardloop van die plekke waar hulle afgelaai is en na Môrester Ladysmith teruggekeer. “Daar word beweer die kinders is by die huise mishandel, maar nie een enkele lid van die bestuur of die personeel is aangekla of in hegtenis geneem nie.”

Volgens hom is daar geen rede vir die traumatiese ervaring wat die kinders moes beleef nie.

Hy doen ʼn beroep op premier Willies Mchunu en Thusi om dadelik stappe te doen om seker te maak die kinders word behoorlik en liefdevol versorg; om die ouers dadelik te kontak om hulle in kennis te stel waarheen hul kinders geskuif is en waarom hulle geskuif is; en om vervoer beskikbaar te maak sodat ouers hul kinders kan besoek.

“Hulle moet ook publiek redes verskaf en aanspreeklikheid doen waarom die kinders van die huise verwyder is, die wettigheid van die stappe wat gedoen is om die kinders te verwyder, die manier hoe die kinders verwyder is, waarheen elke kind geneem is, die medikasie en spesiale behoeftes wat elke kind mag vereis, waarom stappe nie teen die bestuur of personeel gedoen is nie, en die redes waarom die kinders nie in die huise gelos kon word onder noodsorg van departementele personeel en ander opgeleide personeel nie.”

Lees het gesê hy het Mchunu skriftelik versoek om dringend stappe te doen om die kinders te red. “Ons hoop en bid dat hierdie nie ʼn herhaling sal wees van die [Life] Esidimeni-katastrofe [in Gauteng] nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

humor ·

Siellose harde ongenaakbare werkswyse in kommunistiese staat.

Piet Snot ·

Bid vir daai kinders se beskerming. Hulle is weerloos op onbekende plekke by onbekende mense sonder toesig afgelaai en loop ‘n reële risiko om mishandel te word.

Leoné du Toit ·

En so gasn daai kinders in n Isidimeni geval ontaard??

Rafel ·

Ek stem. Dit klink baie verdag en wie vertrou nog enige besluite wat die regering neem.

Leona Swart ·

Geen kind verdien dit nie. Maak nie saak watter kleur nie. Kinders het nie gevra om daar te wees nie. Hulle is n geskenk van God. Ek wil nie eers dink wat kon van hulle geword het nie. Here ons vra dat U hierdie kinders sal beskerm en sal dat wie ook al hulle gevat het hulle veilig trug besorg. Amen. Kom ons almal Bid vir die kinders se veiligheid………

Clipper ·

Tipiese anc arrogansie. Niks wat werk word toegelaat om te bestaan nie, alles moet vernietig word. Hulle sal nooit regkom nie

Nana ·

n Tweede Esidimeni tragedie?!
Wie gee die staat die reg om kinders te verwyder sonder die nodige stappe. Is hierdie nie oortreding van die kinderwet nie?

Bettie Kok ·

Hulle moet onmiddellik ‘n intensiewe soektog na die kinders loots! Mens weet nie meer wie agter hierdie kinderontvoerings sit nie. Want hierdie is kinderontvoering. Humantrafficking is ook aan die orde van die dag. En sodra kinders gevind word… indringende soekligte oor die tehuise net om seker te maak alles loop daar reg soos dit moet. Ek bid dat hierdie kinders gevind word!

Johanna Botha ·

Life Esedimeni 2 ! Is daardie ene met die bril wat kamtig studeer weer naby want sy loop nog vrylik rond na meer as 150 mense dood is onder haar hand !

Marlinet Bekker ·

Waar is die toepassing van beste belang van die kind?

Hannetjie ·

Wat van die skoolgaande kinders? Hulle moet tog in skole geplaas word!Iets klink nie reg nie.Alles moontlik moet gedoen word om die kinders op te spoor…en die wat die kinders se ‘ontvoer’ het..en opdrag gegee het..moet tronk toe.

Elvira ·

Life Esidimeni herhaling en hierdie onopgeleide onopgevoede salarisdiewe gaan weereens wegkom met hulle onderduimse planne. Net hulle weet wat hulle doen. Kinders is seker verkoop.

Magaretha van heerden ·

Dit ruik na rot. Is dit nie dalk deel van children trafficking nie? Klink net nie reg nie. Wat se bewyse is daar dat die persone wat die kinders wegvat wettiglik is wie hulle se hulle is. Mens kan nooit te versigtig wees in die dae wat ons leef nie.

Adrian ·

Dis onwettig kla die ANC aan vir ontvoering … dis presies wat dit is

Ben ·

Heel moontlik mensehandel? Dit is meer winsgewend as Wapensmokkelary en Dwelms. As hulle niks het om weg te steek nie sal hulle se waar die kinders is? Tensy die kinders se lewens bedreig word?

Piet Pompies ·

Stuur gerus vir ons ‘n kind om na om te sien. Ons het Januarie afskeid geneem van ‘n kind wat vir 6 jaar in ons sorg was. Sy ouers het net tyd gehad om hulle voete te vind, die afskeid was swaar maar ek troos my daaraan dat die sy ouers nou die beste vir hom bied.

Jem ·

Heeltemal onaanvaarbaar. Dit is teen ons demokrasie. Hoe ongevoelige kan hulle wees om kinders te gebruik vir hulle politiek games. Ek is baie kwaad. Mag hulle kry wat hul toekom.

Mensehandel ·

Die ANC kort geld en het geen gewete, so is die kinders nie dalk in die mensehandelketting nie?

Selfbeskikking ·

Ons sal moet ojs eie land kry want hierdie land gaan sink.

Lana ·

Gaan my verstand te bowe!
Waar daar regtig groot probleme is, sukkel jy vir hoe lank om die regering te beweeg om iets aan die saak te doen, MAAR waar nie sulke groot probleme is nie kom hulle voortydig met gewapende polisie aan!!!

Hans ·

N paar jaar gelede is ‘n geresepekteerde kinderhuis ondersoek na ongegronde aantyging,nou wonder ek of dieselfde nie hier ook gebeur nie-in die proses word onskuldige kinders getraumatiseer. Ek vertrou die hof beslis te gunste van die welsynsorganisasie en dat die oorhaastig amptenare gestraf sal word.

jakes ·

Die dept van maatskaplike ontwikkeling moes lankal ondersoek gewees het. Onbevoegdheid van amptenare is soos ander staatsinstellings aan die orde van die dag. Ons land is vrot tot in sy fondanente en wonder waar gaan dit eindig? Om met kinders te mors is n groot onreg maar ons weet mos in SA is onreg n vloekwoord.

Irma ·

Hierdie lyk regtig na “human traficing”. Deur wie is die mense wat die kinders weggeneem het positief identifiseer as werknemers van maatskaplike ontwikkeling?

LHS ·

Dagvaar daardie departement namens elke kind vir trauma, emosionele afbreking, ontvoering ens.ens en gebruik dan daardie miljoene om die tehuise op te gradeer.

Doreen ·

Hulle wil wys hulle is BAAS. Kom veg teen ons en Los ons kinders uit

klip in die bos ·

Van die kommentare klink soos rillers. Is daar nie in baie van die nuus wat ons vandag bereik, nie miskien toneelspel betrokke nie.

PJC ·

Hierdie kinders word nou seker by mense geplaas wat net die geld soek en hulle dan in motorhuise en allerhande buitegeboue aanhou sonder behoorlike sorg soos in die Life Esidimeni geval waar sommige van die mense nou nog weg is. Waar het hulle so vinnig genoeg geskikte mense gekry om na die kinders om te sien. Hierdie is weer ń erge skelm besigheid wat ernstige gevolge vir die kinders gaan hê. Hopelik help hierdie tipe insidente om mense se oĕ oop te maak vir wat werklik in die land aangaan.

Ekke ·

Nog ‘n Boko Haram, Esedimeni voorval of dalk kinderhandel voorval? Arme weerlose kinders.

Annette ·

Ek kan my oë nie glo nie!! ‘n Kind wat in `n kinderhuis is, kom reeds uit moeilike omstandighede! Hoe kan iemand so onmenslik wreed wees om hierdie kinders so te traumatiseer!! En dit nogal met gewapende polisiemanne!! Dit klink vir my na menseroof. Hierdie mense mag nie daarmee wegkom nie.

Natascha ·

Moes hul dit wat ookal die oorsaak was vd verwydering nie eers bespreek het met die betrokke partye en die saak ondersoek het nie? Daar is baie kinders getraumatiseerd, en nie eens die ouers weet waarnatoe hul kinders geneem is nie.
Wat gaan aan?????? Gaan die nog n Esedimeni saak word?????? Baie mense wil graag agter die kap van die byl kom en soek antwoorde.
Hoop ons almal wat omgee vir weerlose kinders sal n antwoord kry waar die kinders hul bevind en wat die rede is dat hul die kinders verwyder het.
Weereens het die staat ingestap sonder om die saak behoorlik te ondersoek.
Ek hoop en bid dat daai kindertjies weer spoedig by hul ou plekke terug geplaas sal word. Dit was die enigste blyplek wat daai kindertjies geken het en waar hul veilig gevoel het, hoekom, hoekom, hoekom????????
Ek weet van n dogtertjie in Ladysmith Kinderhuis wat so getraumatiseerd was dat sy n fit aanval gekry het, maar steur die mense hul aan hoe die kinders voel< NEE.

Mickey ·

Hi Maroela skryf asb n opvolg as julle inligting kry oor waar die kinders hulle bevind of oor hoekom die kinders weggeneem is.

Dina ·

Hoe kan n regering SO wreed en onsensitief wees teenoor kinders?

Anoniem ·

@ What a Joke – die fout met die regering is, hulle DINK nie.

NEEE WAT ·

Ek is ‘n inwoner van Newcastle, en was al by baie projekte betrokke saam met Morester en Huis Mea. Dit is goed versorgde, liefdevolle kinders – my hart breek om te dink waardeur hulle nou gaan! Ek bid dat hulle almal veilig sal wees en sal kan terugkeer na hulle “huise”. Dit was so onnodig! Verwyder die betrokke volwassenes, hoekom die kinders verder ontwrig????

Walglik ·

Julle is WREED, wat julle aan ‘n KIND doen sal GOD DUBBEL en dwars aan julle terugdoen. MAg julle gestraf word vir wat julle aan die weerlose kinders doen .. Hier kom alweer ‘n LIFE ESIDIMENI tragedie waarvoor NIEMAND weer verantwoordelikheid gaan neem nie .. Soek seker weer die KINDERS SE GRANTS … Al wat daardie kinders ken is die ander maatjies en ‘mammas’ wat vir hulle sorg en julle ruk hulle wreed van hulle af weg … SKANDELIK.

Nix ·

Volgens ‘n hofbevel word kinders in a sekere huis of persoon se sorg geplaas. Het hulle dan nou al daai bevelle laat wysig om die kinders elders te plaas?

JoeV ·

Ons hoop nou maar net die plekke waar die kinders heen geneem is voldoen aan die vereistes en daar raak nie van hulle weg of gaan dood van die honger nie…. het al die les gehad is dit nie?

toy ·

Dit klink soos ontvoering, want niemand weet iets en hulle het die kinders se medisyne net so gelos ook.

tania ·

Iemand het ‘n klomp NGO mpye gaan stig en melk nou die departement vir geld maandeliks!! So nog ‘n tragedie wat wag om te gebeur!!!!!

Santie ·

Nee heng. Hiér moet onmiddellik opgetree word voordat daar ‘n weer ‘n tragedie is en niemand weet waarheen sommige mense geskuif is nie! Ek ruik ‘n ékstra groot rot. Ek stem saam: waarom die kinders skuif en nie die personeel nie? Dit is absoluut verregaande dat kinders op hierdie manier getraumatiseer word en niemand word aangekla nie!

B ·

Verstaan ek reg dat hoofsaaklik wit kinders weggesleep is by die instellings?

Allan ·

“HUMAN TRAFFICKING”

Omdat hulle nie “ouers” het nie is daar niemand wat navrae sal doen as hulle “verdwyn” nie. Dit is die algemene internationale sindikate se metode, daar is daar geen navrae of bewys nie met die kinders nie.

Emma ·

Ek hoop die Menseregte Kommissie het oor die naweek elke kind se welstand gemonitor, ek twyfel of dit gebeur het. Om 200 getraumatiseerde kinders te monitor, verg nogal baie beplanning en ons staatsdepartemente beskik nie oor hierdie vaardighede nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.