2014-Verkiesing: Grondhervorming het wyer implikasies vir die ekonomie

Argieffoto

Argieffoto

Grondhervorming was een van die hooftemas van die politieke debat in die aanloop tot Woensdag se algemene verkiesing, luidens ‘n mediaverklaring deur Agri SA.

Die potensiaal om stemme te werf deur die grondeiseproses te heropen en beloftes te maak oor versnelde grondoordrag aan voorheen benadeelde gemeenskappe, is maksimaal benut. Die vlak van populêre verwagtinge oor toegang tot grond is hierdeur verhoog en sal een van die sleutelkwessies wees wat kiesers se keuses by die stembus beïnvloed.

Keuses hieroor is egter nie net bepalend vir aangeleenthede soos grondbesit, landelike stabiliteit en voedselproduksie nie: dit is ook vir die breër beleggers-gemeenskap aanduidend van hoe ‘n toekomstige regering met die produktiewe bates van die ekonomie wil handel in hul strewe na ekonomiese en maatskaplike geregtigheid. Die implikasies van benaderings tot grondhervorming kan daarom moeilik tot slegs grondbesit beperk word. Dit raak ‘n spektrum ander rolspelers in die ekonomie direk en vestig ‘n benadering tot eiendomsreg wat noodwendig wyer toepassing sal vind.

Dit is in dié verband wat Suid-Afrika se grondwet-bepalings oor eiendomsreg en die praktiese uitleef daarvan met verstandige ekonomiese beleid van deurslaggewende belang vir toekomstige vooruitgang en stabiliteit is. Hieroor het Agri SA ‘n ondubbelsinnige standpunt: dit is gewoon ondeurdag en roekeloos om die onteiening en oordrag van grond sonder billike vergoeding te propageer; óf om gedwonge prysgawe van grond vir die bemagtiging van plaaswerkers voor te stel. Dit strek buite die grense van redelikheid indien daar van individuele grondeienaars verwag sou word om relatief groter offers as ander rolspelers in die ekonomie in belang van nasionale uitdagings te bring, net omdat grond as eiendom ter sprake is. Die miskenning hiervan sal tot nuwe verontregting lei wat ons jong demokrasie kan skaad.

Landbouers, insluitend hul werkers, is ‘n onlosmaaklike deel van Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike landskap. Die uitdagings van bemagtiging en transformasie word deur rolspelers in die bedryf met erns benader. Daar is ‘n bereidwilligheid om hande uit te reik en saam te werk met wie ookal die bedryf se volhoubare vooruitgang nastreef. Die verkiesing is ‘n sleutelgebeurtenis wat kiesers moet gebruik om mandate op politieke vlak te vestig wat harmonie sal bevorder in die nastreef van ‘n gedeelde visie oor ‘n bestendige en vooruitstrewende Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.