2018-matrieks: Net 7% slaag tweejaar-eksamen

Argieffoto

Slegs 7,1% van matrieks wat die opsie genaamd meervoudige eksamengeleentheid (MEG) vir die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen in 2018 gekies het, het dié eksamen geslaag.

Die DA het dié onthulling gemaak nadat die party vroeër vandeesweek ʼn vraag aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in die parlement gestel het waarop sy geantwoord het dat slegs 6 354 uit 88 828 leerders wat die opsie gekies het wel geslaag het, met 73 467 wat die eksamen gedruip het.

Volgens Motshekga het 9 007 van dié leerders nie eens opgedaag om die eksamen af te lê nie.

Die MEG-opsie is voorheen ingestel om sukkelende matriekstudente die geleentheid te bied om hul eksamens oor twee jaar af te lê.

Dit beteken dat leerders met geskikte akademiese vordering ná die voorlopige voorbereidingseksamen in September, en gegrond op hul prestasie in die voorlopige eksamen, kon kies om al ses vakke of minder as die sesvakpakket in die November-eksamen en daarna die oorblywende vakke in die Junie-eksamen van die volgende jaar te skryf.

Leerders wat dié opsie gekies het, moes ʼn minimum van vier vakke in hul eerste jaar afhandel en teen die tweede jaar die vraestelle van al sewe vakke geskryf het.

Die opsie is van vanjaar af nie meer beskikbaar nie.

Nomsa Marchesi, DA-skaduminister van basiese onderwys, sê in die verklaring dit blyk dat die departement die MEG-program ingestel het, maar nie die gepaste beheermaatreëls toegepas het wat die doeltreffende uitvoering daarvan sou verseker nie.

Volgens Marchesi weier die departement ook om die 9 007 leerders wat nie hul eksamens afgelê het nie as dropouts te bestempel en redeneer dat dié leerders moontlik in die daaropvolgende eksamens wel sou terugkeer om die oorblywende vakke te skryf.

“Uit ervaring kan ons sê dat hierdie kandidate nooit hul oorblywende eksamens gaan voltooi nie. Toe die DA vroeër vanjaar die direkteur-generaal vir basiese onderwys vra hoeveel van dié leerders nou eintlik hul tweede eksamenfase afgelê het, kon hy ons eenvoudig nie ʼn antwoord gee nie,” verduidelik Marchesi.

Die MEG-opsie is intussen afgeskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cherokee ·

Politieke diplomasie kan oordryf word, soos om wit hande te wys, terwyl nie genoem word watter persentasie daarvan wit is nie.

Gertryda ·

Dit lyk my ek sal matriek kan skryf al is ek al 71.
Ek wou swot maar omdat ek nie matriek toelating jare gelede gekry het nie moet ek weer matriek skryf maar moet van st6 wiskunde doen. Lyk my met standard vandag kan ek sommer jap trap deurkom. ????????

Penellope Jones ·

Baie subtiel . . . . . .
Wys dan eerder net ‘n lessenaar met ‘n boek, hande is nie nodig nie. . . .

Andre C ·

Die plaaslike koerant van die Hessequa distrik(Riversdal omgewing )het so n tydjie terug oor die probleem van van tienerswangerskappe berig en dit goedgedink om n foto van n blanke dametjie by die berig geplaas . Die media verdraai graag die waarheid.

Alida ·

Die hele Departement is n gemors as mens na die vakke kyk wat nou aangebied word. Dit is afskuwelik en die onderwysers moet eenvoudig weier om dit aan te bied. Geen morele waardes nie. Gemors.

Onnie MP ·

Van watter vakke praat jy nou eintlik? Let wel dat LO wat redelik omstrede is, nie eers ‘n eksanenvak is nie. Leerders hoef slegs taak in te handig en praktiese punt te kry. Die rede vir die slaagsyfer is omdat leerders slegs een maal per fase teruggehou word. Skole sal eerder leerders se punte aanpas as om te verduidelik hoekom die kind nie slaag nie. Wanneer hy dus in matriek beland is hy /sy hoegenaamd nie voorberei vir die nasionale eksamen nie. Baie leerders is nie opewasse vir die leerplan nie. Kinders moet van jongs af gestimuleer word met opvoedkundige speletjies, boeke, legkaarte, ens. Van die kinders in my Gr R klas se ouers kan nie eers ‘n 36 stuk legkaart bou nie. As die prestasies en slaagsyfer van die skole geskei sou word soos jare terug, sal julle sien waar die eintlike probleem lê. Ongelukkig mag ons dit nie doen nie en ons onderwyssisteem sal nooit regkom nie. Daar is net te veel leemtes, probleme en ongekwalifiseerde onderwysers.

Peanut ·

Ja dis absoluut skrikwekkend. Ek het n kleuterskooltjie vir babas en kleuters tot 3 jaar. Mens kan duidelik sien wie kry stimulasie tuis en wie nie. Ek het 3 jariges wat n 54 stuk legkaart in n japtrap kan bou en dan sit n ander 3 jarige met n 4 stuk legkaart en sukkel vir amper 30 minute om hom te bou. Dis bitter hartseer, want wanneer hulle eendag in die skool kom is hulle “mekaar se gelyke”, want die sukkelende outjie mag nie terug gehou word en die vinnige een nie bevorder word deur n graad te spring nie.

johanna ·

@PEANUT … dan le die probleem mos by die kleuterskool, julle sal liewers van so kind skinder as wat julle dit onder die ouers se aandag sal bring .. en ek weet nie hoe vergelyk jy n kleuterskool met Matriek nie

jakes ·

Dit is nie net n probleem met matrieks nie maar ook met studente wat universiteit toe gaan om verder te leer. Meer as helfte druip hul eerste jaar terwyl 80% van die oorblywende helfte nooit hul studies voltooi nie. Intussen studeer hulle vry want die staat betaal vir hul studies. Feitlik jaarliks word die vereiste slaagpunt verlaag om hierdie student te help graad vang. Geen wonder dat SA se universiteite onder die 500 bestes in die wereld gereken word. Wat n pateiese prestasie.

Perree ·

@Jakes, gaan kyk bietjie wie die eerste jaars is van wie jy praat. 73% van wie jy praat is blanke eerste jaars, so ja jys reg, dit help ne.

Karl ·

ROFL. Maar hoekom leer en deurkom as jy net van ander af kan lewe.

JohanR ·

Lees ek nou verkeerd? Moet jy nou net 7% kry om matric te slaag. Ek dog is 30%? Julle weet ek spot nou mense. Die tong is in die kies.

Neil Marnewick ·

Ek het onlangs na ‘n dokumentêr gekyk oor Finland se skoolstelsel. Die kinders is die beste geleer en opgevoed in die wêreld, kry nooit huiswerk nie en het kort skooldae.
Sal ons slim ANC regering ooit na sulke oplossings wil kyk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.