2020-ekonomie swakste in meer as dekade

(Argieffoto: Maroela Media)

Suid-Afrika se ekonomie het weens die Covid-19-pandemie sy eerste jaarlikse inkrimping in 11 jaar in 2020 ondervind, maar het minstens in die laaste twee kwartale van verlede jaar weer begin kop optel. Die bruto binnelandse produk (BBP) het verlede jaar met 7% gekrimp, in vergelyking met ʼn 0,2%-groei ʼn jaar tevore, het Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) bekend gemaak.

Die insinking word hoofsaaklik veroorsaak deur “dalings in die vervaardiging-, handel-, spyseniering- en akkommodasiebedryf”, sê Stats SA.

Dit is die eerste jaarlikse inkrimping sedert 2009, toe die BBP met 1,5% gedaal het.

Die ekonomie – reeds in  ʼn resessie toe die pandemie uitgebreek het – het ten spyte van die Covid-19-beperkings steeds tekens van veerkragtigheid getoon en met 1,5% in die laaste kwartaal van 2020 gestyg. Geannualiseerde groei staan op 6,3%.

Die groei in BBP tussen Oktober en Desember was danksy verhoogde bedrywighede in die vervaardiging- en handelsektor.

Dit het ʼn herstelproses verleng wat reeds in die derde kwartaal begin het – toe Suid-Afrika ʼn kwartaallikse groei van 13,5% ondervind het – nadat die pandemie die land se ekonomie tot  ʼn rekordlaagtepunt gedruk het.

In geannualiseerde terme, Stats SA se voorkeurmaatstaf, het groei in die derde kwartaal 66,1% bereik, nadat dit met 51,7% tussen April en Junie teruggesak het.

Die ekonomie het in die derde kwartaal begin stoom optel toe afsonderingsregulasies verslap en infeksiegetalle begin daal het.

ʼn Nuwe vlaag infeksies, aangedryf deur ʼn meer aansteeklike variant van die virus, het beteken regulasies is weer verskerp, maar die verskillende bedrywe het moedig bly werk.

Bedrywe soos gasvryheid en toerisme is van dié wat die swaarste getref is deur ʼn aandklokreël en ʼn verbod op drankverkope wat restaurante gedwing het om vroeg te sluit.

Die regering het in Maart verlede jaar ʼn streng afsonderingstyd in werking gestel om die verspreiding van die virus te stuit, maar dit het ook die ekonomie tot stilstand gedwing.

Ontleders voorspel minstens ʼn meer rooskleurige prentjie vir vanjaar.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê data dui daarop dat ekonomiese herstel op pad is danksy sakebedrywighede wat weer na normaal terugkeer en die regering se inentingsprogram wat spoed optel.

Nedbank sê ook die geleidelike verspreiding van die entstof behoort kommer te en vertroue te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

daniel ·

Die verswaking van die ekonomie was alreeds daar lank voor covid, as gevolg van korrupsie en staatskaping

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.