2020 Skoolplasings: Chaos met aanlynaansoeke, plasings ver agter skedule

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Skole in Gauteng probeer onverpoos om hul gr. 1- of gr. 8-toelatings vir die komende skooljaar uit te sorteer nadat die Gautengse departement van onderwys (GDO) se aanlynstelsel die provinsie se 2020-toelatings in chaos gedompel het. Duisende ouers wag boonop nog hande in die hare vir terugvoer op hul aansoeke.

Volgens die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) is daar verskeie probleme met die stelsel, met die omvang van probleme wat van skool en distrik verskil.

Die GDO se bestuursplan wat reeds met etlike weke aangeskuif is, bepaal dat alle gr. 1 – en gr. 8-leerders teen 31 Oktober geplaas moet wees by skole, mits hulle betyds aansoek gedoen het.

Luidens die plan behoort ouers ʼn SMS van die departement te ontvang om sy of haar kind se plek in ʼn skool te bevestig sodra ’n skool se waglyste gereed is. Ouers moet dan binne sewe dae die aanbod vir die plasing aanvaar of verwerp.

“Talle ouers wat reeds op 20 Mei vanjaar aansoek gedoen het, sit hande in die hare omdat hulle nog geen SMS ontvang het nie. Skole wat plek het probeer hul bes om ouers te help, maar die departement se aanlynstelsel gooi telkens nuwe probleme uit,” lui die verklaring.

Ander probleme sluit in die plaas van leerders wat aanvanklik laag op ’n skool se waglys was, terwyl graad R-leerders wat tans in die skool is en binne die eerste halfuur nadat aanlyn-aansoeke geopen het aansoek gedoen het, steeds wag vir plasing.

Luidens die verklaring is twee hoërskole ook skielik toegegooi met Engelssprekende leerders wat nie voorheen op die skool se waglys was of eers by die skool aansoek gedoen het nie.

In ander gevalle het ouers wat slegs by een skool aansoek gedoen het en reeds met die skool bevestig het dat daar vir hulle kind plek is, nog geen SMS vir plasing by die skool ontvang nie. Boeties en sussies wat reeds in ’n skool is, se sibbe word in sommige gevalle weggewys, nadat die skool aangedui het dat hulle plek het.

“Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se gesentraliseerde aanlyn-toelatingstelsel is veronderstel om duplisering en onnodige werk uit te skakel,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS. “Die stelsel is egter ondeursigtig, ondemokraties en totaal oneffektief. Chaos met die toelatings dien as ’n bewys dat die departement ook nie oor die kundigheid beskik om ’n gesentraliseerde stelsel suksesvol te bedryf nie en eerder skoolbeheerliggame se reg moet erken om plasings te hanteer,” sê Buys.

Die SOS en AfriForum het reeds verskeie regsbriewe aan die departement geskryf om foute in die toelatingstelsel uit te wys. Daar is ook reeds met die proses begin om tekortkominge van die gewysigde regulasies ter syde te stel.

Die SOS raai aan dat bekommerde ouers direk met die skool van hul eerste keuse skakel en terselfdertyd skriftelik vertoë oor die plasing van hul kind aan die onderwyshoof, Edward Mosuwe, by [email protected]. en [email protected] rig.

Intussen voer die DA in ʼn verklaring aan dat Lesufi die publiek mislei het deur te verklaar dat Gautengse skole se taalbeleid “nietig verklaar is”. In ʼn radio-onderhoud in September het Lesufi gesê skole moet ʼn nuwe taalbeleid teen einde September vir goedkeuring voorlê. Volgens Lesufi is wetgewing in dié verband in die parlement goedgekeur, maar Desiree van der Walt, die DA se skadu-adjunkminister van basiese onderwys, sê geen sodanige wetgewing is in die parlement goedgekeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Disselboom ·

Ons verwag binnekort die aankondiging van waar Solidariteit se Toekomsplan die eerste skool gaan bou: laerskool, gevolg deur hoërskool. En vinnige uitbreiding.

Hendrik ·

Die aanlynaansoek stelsel is glad nie bruikbaar nie en dit moet beslis deur kundige mense ontwikkel , onderhou en bedryf word. So ver ek hoor is die stelsel baie amateuragtig geskryf en op ou tegnologie gebaseer. Nog ‘n onder standaard diens wat gelewer word aan die belastingbetaler.

Ekke ·

Dit is ‘n tipiese ANC – plan, wat, soos voorspel, skeef loop!

Irma ·

Nog een van Lesufi se patetiese ideës om mense soos skape te beheer. Groot meneer

Laerskool Prefek ·

Maroela….waar is julle kappie op die “e” van ” vêr” …….?
…of is dit n “millenial” ding..

hannelie ·

Ek is een van die ouers wat 08:09 daardie oggend gerigistreer het. My applikasie se nog steeds application being reviewed. Die skool self prober my help nadat my seun wat nommer sewe op hul lys was daardie oggend net af gegooi is oor ons 5.11 km van die skool bly en hulle die plasing doen binne 2km wat hulle versoom het om vir die hele publiek te vertel. Toe ek bel om te vra toe se die skool vir my dis omdat ons nie 2km van die skool bly nie dat hy af gegooi is.

TDW ·

Lesufi die bybel sê jy mag nie haat nie.
Miskien glo jy nie daarin nie, maar jy maak dit ook baie moeilik vir ons om nie te haat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.