2021: Sóveel leerders doen aansoek by Wes-Kaapse skole

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het meer as 361 000 aansoeke vir plek in skole vir 2021 ontvang. Aansoeke het reeds Woensdag vir dié provinsie gesluit.

Aansoeke het sedert verlede jaar amper verdubbel. In die bestek van twee weke het die getal aansoeke ook van 154 000 tot 361 000 toegeneem.

Ouers kon van 17 Februarie deur middel van ’n aanlyn platform aansoek doen vir hul kinders by ’n skool in die Wes-Kaap.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê die geleentheid om hardekopie-aansoeke tesame met gedrukte aanlyn aansoekvorms by skole in te handig is tot 17 April verleng, omdat skole weens die koronavirus (Covid-19) vir ’n langer tydperk gesluit is. Hierdie vergunning is slegs van toepassing vir ouers wat hul aanlyn aansoeke voor die sperdatum van 17 Maart ingedien het.

“Ons verstaan daar is ouers wat die afgelope paar dae aanlyn aansoek gedoen het en nog nie die nodige hardekopie-aansoeke by skole self ingehandig het nie,” het Hammond gesê.

Hammond sê aanlyn aansoeke wat nou eers ingedien word, sal as laat aansoeke bestempel word. Dié aansoeke sal eers in die derde kwartaal oorweeg word.

Aansoeke gaan nou tot 17 April verwerk en oorweeg word.

Ouers sal tussen 15 en 22 Mei van die uitslag van hul aansoeke verwittig word. Ouers moet dan teen 5 Junie die skool van hul keuse in kennis stel dat hulle wel die plek aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.