2021: Studente kan nou aansoek doen vir NSFAS-finansiering

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het Maandag aangekondig dat studente nou kan aansoek doen om hulp van die nasionale skema vir finansiële bystand vir studente (NSFAS).

Die aansoektydperk vir finansiële hulp aan studente vir 2021 duur tot 30 November 2020.

Aansoeke vir finansiering vir 2021 sal aanlyn gedoen word deur die myNSFAS-portaal, net soos in die verlede. Volgens Nzimande het die NSFAS-portaal intussen verbeterings en veranderings ondergaan.

Nuwe aansoekers benodig ʼn afskrif van hul identiteitsdokument of geboortesertifikaat om te registreer en ʼn profiel op die aanlyn portaal te skep. Aansoekers met bestaande rekeninge moet by hul rekeninge aanmeld. Aansoekers word tot slegs een profiel beperk.

Nzimande het Maandag in ʼn verklaring gesê NSFAS het in die huidige akademiese jaar reeds meer as 700 000 studente gefinansier, waarvan 248 242 studente by TVET-kolleges en 481 339 studente aan universiteite studeer. “Dit is 20% meer begunstigdes in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar,” het hy gesê.

Nzimande het gesê NSFAS-studente maak 40% van die voorgraadse studente aan universiteite uit en 70% by TVET-kolleges.

Hy het ʼn beroep gedoen op kwalifiserende studente om van hierdie geleentheid gebruik te maak en betyds aansoek te doen om finansiering vir komende jaar.

NSFAS werk ook aan die finalisering van sy virtuele uitreikprojek waarin interaktiewe aanlyn sessies aan gebruikers van die NSFAS- aanlyn platform bekendgestel word. Só kan die gebruiker tydens ʼn virtuele toer aan NSFAS-produkte en dienste blootgestel word.

NSFAS het ook in Maart vanjaar ʼn virtuele kontaksentrum op die been gebring wat studente moet bystaan met vrae wat hulle het.

Nzimande het gesê dat NSFAS sy vennootskap met die departement van basiese onderwys versterk het om NSFAS se voetspoor en bereikbaarheid verder te verhoog, spesifiek vir leerders van gr. 10 tot gr. 12. Die departement sal NSFAS met provinsies en distrikskantore in verbinding bring en ’n databasis van nasionale sentrums vir onderwysers verskaf wat met aansoeke sal help. “Terwyl die 2021-aansoeksiklus reeds aan die gang is, wil ek ons huidige begunstigdes gerusstel dat die departement, saam met NSFAS, onvermoeid werk om te verseker dat die huidige akademiese jaar gered word, ten spyte van die Covid-19-pandemie,” het Nzimande gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.