21-jarige SA’ner in Mosambiek ‘veilig’

Die 21-jarige Francois van Niekerk wat in Mosambiek vermis was. (Foto: Facebook/ Bringfrancoishome)

Die 21-jarige Francois van Niekerk, wat vermis geraak het toe ekstremiste Woensdag die noordelike dorp Palma in Mosambiek binnegeval het, is veilig.

Volgens sy stiefma, Cindy van Niekerk, het ʼn moeë en honger Francois Saterdagoggend een van die oliereus Total se kampe in die omgewing binnegeloop. Hy het dadelik sy pa gebel om te sê hy is veilig. Francois werk vir sy pa se onderneming in Mosambiek.

“Hy is nie beseer nie. Hy is heeltemal oukei, net baie moeg en honger,” het Cindy aan Maroela Media gesê. “Dis niks minder as ʼn wonderwerk nie. Ons dien ʼn grote God.”

Francois se familie het Saterdag ʼn Facebookgroep gestig waarop hulle by mense gepleit het om vir Francois te bid, omdat hulle geen manier gehad het om met hom te kommunikeer en seker te maak hy is veilig nie.

Maroela Media het reeds berig dat talle Suid-Afrikaners saam met ander buitelanders in ʼn hotel in Palma skuiling gesoek het toe djihadiste die dorp binnegeval het. Dié buitelanders werk hoofsaaklik by ʼn nabygeleë aardgasaanleg, waarin Total die meerderheid aandele besit. Hulle is sedertdien uit die hotel verwyder. Dit is nog nie seker of Francois deel van dié groep was nie.

Van Niekerk sê hoewel hulle baie verlig is, is Francois nog nie buite gevaar nie. “Ons hoop om so vinnig moontlik ʼn helikopter na hom te stuur om hom veilig uit die gebied te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Beste nuus vir die dag! Ons dien inderdaad ‘n groot God! Hoop jy’s vinnig veilig tuis Francois

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.