21-jarige vas oor baba se ontvoering

Ondersoekbeamptes van Umzinto-polisie saam met baba Sbahle Vapi (Foto verskaf aan ANA)

ʼn 21-jarige is Maandagoggend in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ʼn twee maande oue baba, Sbahle Vapi.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die persoon is by ʼn skool in Qwabe in hegtenis geneem. “Die verdagte het beamptes na ʼn huis in Turton geneem waar baba Sbahle veilig gevind is. Die baba was in ʼn goeie toestand en die verdagte het haar met ʼn bottel gevoer. Sy is na ʼn hospitaal geneem vir ʼn mediese ondersoek,” het Mbele verduidelik.

Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die Umzinto-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur toe Sbahle verdwyn het. Haar 28-jarige ma het verlede Dinsdag omstreeks 14:30 met haar by ʼn taxistaanplek in Umzinto gestaan toe sy deur ʼn onbekende vrou in ʼn pienk nagrok genader is. “Die vrou in die pienk rok het die ma eenkant toe geroep en vir haar gesê dat sy ʼn mishandelingslagoffer is en geen heenkome het nie. Die ma het besluit om die vreemdeling te help en het haar na haar huis in ʼn informele nedersetting geneem,” het Mbele verduidelik.

“Teen 20:00 het die verdagte gekla van ʼn hoofpyn en het die baba se ma versoek om pynstillers by haar bure te gaan kry. Die ma het haar baba agtergelaat en is gou na die bure toe. Sy het kort daarna teruggekeer en besef die vrou oor wie sy haar ontferm het, en haar dogtertjie, is skoonveld.”

Sbahle se kliniekkaart, formulemelk en bababottels het ook spoorloos verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

$ ·

Dankie, dankie, DANKIE Here!
Dankie ook aan elkeen in die span wat hard daaraan gewerk het om die mamma hierdie keer trane van blydskap te laat huil. Mag God julle seën.

Nix ·

So hartseer dat ‘n vrou se sagte hart om haar medemens te help so uitgebuit word! Soos die spreekwoord lui : No good deed goes unpunished! So dankbaar die lyfie is veilig terug by haar mamma!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.